LAPA Uitgewers

Bekroonde Jason Reynolds-roman deur Nathan Trantraal in Afrikaans vertaal

'n Woedende, verbluffende jeugroman wat 'n rou en eerlike blik op vuurwapengeweld bied

10 December 2018 - 12:05 By lapa uitgewers
subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now

Jy het net sestig naelbyt-sekondes om die belangrikste besluit van jou lewe te neem.

Will is vyftien jaar oud. Hy het ’n pistool. Sy broer Shawn is pas vermoor. Will ken die reëls. Jy huil nie. Jy dra nie stories aan nie. Jy neem wraak. Dit is waarheen Will op pad is, met die pistool agter by sy jean ingedruk, die pistool wat sy broer s’n was. Hy klim in die hysbak, sewende vloer, vasbeslote. Hy weet wie se bloed hy soek.

Wag: weet hy regtig?

Die hele pad ondertoe, terwyl die hysbak op elke vloer stilhou, klim verskillende mense, wat elkeen iets met die geweld in sy buurt te doen het, in die hysbak.

Elkeen van hulle vertel vir Will dele van ’n groter storie as die een wat hy dink hy ken…

Hierdie woedende, verbluffend briljante jeugroman word in kort, vurige staccato versvorm vertel om ’n rou, eerlike blik op vuurwapengeweld te bied, soos net Jason Reynolds dit kan doen.

Nou is dit boonop fantasties in Afrikaans vertaal deur die bekroonde skrywer en digter Nathan Trantraal, wat dit vir Suid-Afrikaanse lesers soveel meer aktueel en herkenbaar, soos vanoggend se koerantopskrifte, maak.

Hierdie boek het al baie bekronings gekry:

  • ’n Newbery-ereboek
  • ’n Coretta Scott King-ereboek
  • ’n Printz-ereboek
  • ’n Los Angeles Times Book Prize-wenner vir jeugliteratuur
  • Op die langlys vir die National Book Award vir jeugliteratuur
  • Wenner van die Walter Dean Myers-toekenning
  • ’n Edgar Award-wenner vir beste jeugliteratuur
  • Parents’ Choice Gold Award-wenner
  • ’n Entertainment Weekly Best YA Book of 2017
  • ’n Vulture Best YA Book of 2017
  • ’n Buzzfeed Best YA Book of 2017

Oor die skrywer

Jason Reynolds is tans een van die bekendste en mees bekroonde jeugboekskrywers ter wêreld, en is die skrywer van die bekroonde boek, When I Was the Greatest, waarvoor hy die Coretta Scott King/John Steptoe-toekenning vir Nuwe Talent ontvang het. Sy boeke Boy in the Black Suit en All American Boys is ook met Coretta Scott King-eretoekennings bekroon. As Brave As You, sy fantastiese debuut vir intermediêre lesers, was ’n Time Book of the Year en wenner van die Kirkus Award. Ghost, die eerste boek in sy Track-reeks vir intermediêre lesers, was ’n National Book Award-finalis. Hy woon in Brooklyn, New York, en sê baie van sy werk is daarop gemik om seuns aan te moedig om meer te lees.

Oor die vertaler

Nathan Trantraal is in 1983 in Kaapstad gebore. Hy is tans een van die opwindendste jong stemme op die Afrikaanse literêre toneel. Sy debuut-digbundel, Chokers en survivors (2015), is met die Ingrid Jonkerprys en ’n ATKV-Woordveertjie vir poësie bekroon. In 2017 het sy tweede digbundel, Alles het niet kom wôd, verskyn, en in 2018 is ’n bundel met sy weeklikse rubrieke vir die Sondagkoerant Rapport gepubliseer as Wit issie ’n colour nie. Hy werk tans aan sy meestersgraad aan die Universiteit van Rhodes. In 2017 het Nathan Trantraal die jongste ontvanger van die Jan Rabie-en-Marjorie Wallace-skrywersbeurs geword.

Artikel verskaf deur LAPA Uitgewers.

subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now