Die eerste titel in J.R.R. Tolkien se Lord of the Rings-trilogie kan nou in Afrikaans geniet word

Janie Oosthuysen se vindingryke dog uiters sensitiewe benadering tot die wêreld van Middel-aarde skep ’n verbeelde werklikheid wat tegelykertyd bekend én splinternuut is

11 December 2018 - 14:17 By BooksLIVE and protea
subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now

Drie Ringe vir die Elf-konings onder die hemelwerf,

sewe vir die Dwerg-here in klipsale gekroon,

nege vir Mense, gedoem om te sterf,

een vir die Donker Heer op sy donker troon

in die Land van Mordor waar die Skaduwees draal.

Een Ring om oor almal te heers, Een Ring om hulle te vind,

een Ring wat almal bring en in die duisternis saambind.

In die Land van Mordor waar die Skaduwees draal.

Wanneer Frodo Baalens sy oom Bilbo se towerring tydens dié se een-en-elftigste verjaarsdagpartytjie erf, is dit die begin van onvoorsiene avonture.

Eers verdwyn Bilbo spoorloos en dan daag die towenaar Ghandalf op met die nuus dat Frodo in lewensgevaar verkeer: wie ook al in besit is van die Ring, vertel Ghandalf, sal uiteindelik deur die korrupterende mag daarvan verwoes word.

Daar is net een uitweg: om die Skeure van Verdoemenis in die dieptes van die Vuurberg te vind, die Ring daarin te gooi en dit só vir ewig buite die bereik van die Vyand te plaas.

Saam met sy kamerade Sam, Mannetjies en Pippin val Frodo in die pad met die hoop om die donker mag van Sauron vir altyd te verslaan.

OOR DIE OUTEUR EN VERTALER

Hoewel J.R.R. Tolkien se ikoniese Die heerser van die ringe geen bekendstelling nodig het nie, is die Afrikaanse vertaling daarvan ’n geweldig opwindende eerste.

Tolkien self was baie krities oor die vertaling van sy werk (“That this is an ‘imaginary’ world does not give [the translator] any right to remodel it according to his fancy, even if he could in a few months create a new coherent structure which it took me years to work out,” skryf Tolkien in ’n brief aan sy uitgewer met betrekking tot die Nederlandse vertaling van die teks), en Janie Oosthuysen se vindingryke dog uiters sensitiewe benadering tot die wêreld van Middel-aarde skep ’n verbeelde werklikheid wat tegelykertyd bekend én splinternuut is.

subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now