'Ek het gekies om romans te skryf om die omstandighede van die tyd uit vele kante te beskou' – Joyce Kotzè bespreek Wintersrust

"Om huise af te brand uit ’n Britse oogpunt het my ook diep laat dink," sê Joyce Kotzè oor die uitdagings wat sy ervaar het tydens die skryfproses van Wintersrust

10 January 2019 - 10:53 By Mila de Villiers

Joyce Kotzè se The Runaway Horses is onlangs in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo en as Wintersrust uitgegee. Hier bespreek Kotzè die oorsprong van haar voorliefde vir skryf, uitdagings wat sy ervaar het om werklike gebeure te fiksionaliseer en die groot rol wat verbeelding in haar skryfkuns speel.

Wat het jou aangespoor om ’n roman wat tydens die Anglo-Boereoorlog afspeel te skryf? Toon jy ’n besonderse belangstelling in dié tydperk?

My belangstelling is die lot van die individu in geskiedenis en dan ook in oorlog. Om Suid-Afrikaanse geskiedenis lewendig te hou, het ek gekies om romans te skryf wat die omstandighede van die tyd uit vele kante beskou. My familie het aan beide kante van die Anglo-Boereoorglog geveg en swaargekry. Dus het ek besluit om eerste oor die Anglo-Boereoorlog te skryf en dan verder te gaan met die Huil-Oorlog, dit wil sê die Rebellie en die Eerste Wêreldoorlog. Omdat hierdie gebeurtenisse groot skeurings in Suid-Afrika ten gevolge gehad het, dink ek dis tyd om dit vanuit alle oogpunte te ervaar.

Hoe het jy teweeg gegaan om die fiktiewe karakters te skep? Het jy meerendeels op eksterne bronne (nie-fiksie tekste, romans, artikels, televisieprogramme, ens.) staatgemaak, of bloot jou eie oordeel vertrou?

Nie eksterne bronne nie, maar ’n sterk interne bron! Ek hetn geweldige verbeelding wat altyd vooruit hardloop. [Stuur groete vir die bobbejaan agter die berg.] Ek besluit op n paar hoofkarakters wat deur die verhaal moet loop of val. Ek skep hulle nie, maar gaan in free fall. Soos n karakter in die storie kom, besluit hy/sy self hoe, wat, hoekom en waar. Die sekondêre karakters glip in die storie in wanneer scene dit benodig en gaan dan aan om te oorbrug waar die ander nie kan bykom nie. Ek vind dat sekondêre karakters uiters belangrik is, want hulle hou die emosionele sy van die tyd en dan ook die storie aanmekaar.

Watter uitdagings het jy ervaar om werklike gebeure te fiksionaliseer?

Dit was die perde wat my die ergste verniel het. Om pragtige Britse kavalrieperde in n veldslag te laat omkom, en om die dapper Boereperde so holoog en kaalribbes te laat swaarkry, was nie goed nie. Om huise af te brand uit n Britse oogpunt het my ook diep laat dink. Die veldslae het ek net uit n spesifieke karakter se oogpunt beskryf. Ek was vele kere by Magersfontein en Paardeberg asook by Colenso. Al wat mens moet doen, is om dieper te dink en maak of jy self daar is. My Engelse ouma het my vertel van die konsentrasiekamp en my Boere oupa van die Slag van Rooiwal. Ek was toe nog baie jonk maar onthou elke woord. Wat ek gedoen het, was om my te verbeel dat alles nóú gebeur en ek moet maar cope.

Dis nogal ongewoon dat ’n skrywer ’n boek aanvanklik in hulle tweede taal uitgee. Hoekom het jy hierdie besluit geneem? Wou jy graag ’n wyer gehoor bereik?

Ek lei af dat jy aanneem my eerste taal is Afrikaans. Ek het ten volle tweetalig groot geword soos my familiegeskiedenis aandui. Reken ook daarby dat 99% van navorsings bronne in Engels is, veral die oor die Eerste Wêreldoorlog. My studies was ook in Engels. Wanneer ek skryf, vloei die emosies en woorde in Engels; ergo; my werk-taal. Afrikaans is n pragtige en spesiale taal, maar ook ’n moeilike taal om te skryf. Dit was nie eers moontlik vir my om my eie werk te vertaal nie. Die vertaling is juis gedoen omdat ek n groter Afrikaanse lesers publiek wil bereik.

Jy werk tans aan ’n roman wat tydens die Eerste Wêreldoorlog afspeel. Hoe vergelyk die skryf- en navorsingsproses daarvan met die van Wintersrust?

Die Eerste Wêreldoorlog verstom my nog steeds. “In de niet verdwyn” was die eerste wat ek daarvan gehoor het toe Ouma vertel het van haar twee jong broers wat nie teruggekom het nie. Ek moes self gaan kyk en het verslae gestaan en weer en weer daarheen gegaan. Ek meen dan min Suid-Afrikaners weet dat alle rasse van die land daarby betrokke was. Die navorsing verskil van die van The Runaway Horses want alles is so werklik, tasbaar amper, as mens omring is deur duisende grafte en die absolute stilte wat daar heers. Hier was nie net oorlog nie, maar liewer futility en diep menslike gevoelens. Om die emosionele sy te skryf het ek my gewend na die digters, Sassoon vir woede; Owen vir die meegevoel en Thomas vir die aksie van jong mans wat oorlog as n plig en vreugde beskou. Die 1914 Rebellie speel n groot rol in my storie en dit is nie maklik om Boerseuns aan die Britse kant te laat veg in Frankryk nie. Ek is nou besig met die vierde herskryf en ek sukkel nog steeds. Ek is oortuig dat my jarelange fascination met die Eerste Wêreldoorlog die rede is hoekom ek begin skryf het.

X