Kuifie en kie besoek die maan in dié twee opwindende titels

Met 'Bestemming maan' en 'Verkenners op die maan' neem Hergé sy lesers ruimte toe

29 April 2019 - 14:56
By protea AND Protea
In 'Bestemming maan' word Kuifie, Spokie en kaptein Sardijn onverwags deur professor Sonneblom na die Sbrodjse Atoomnavorsingsentrum in Sildawië ontbied.
Image: Protea Boekhuis In 'Bestemming maan' word Kuifie, Spokie en kaptein Sardijn onverwags deur professor Sonneblom na die Sbrodjse Atoomnavorsingsentrum in Sildawië ontbied.

Die avonture van Kuifie (Frans: Les Aventures de Tintin et Milou) is een van die gewildste strokiesverhale wat in die twintigste eeu verskyn en is vandag steeds gewild. Die boeke word in ongeveer 60 tale vertaal.

Die hoofkarakter van die verhale is die jong Belgiese verslaggewer Kuifie. Saam met sy hond, Spokie, beleef hy verskeie avonture.

Die eerste verhaal van Kuifie het op 10 Januarie 1929 verskyn as ’n bylae tot die Franstalige Brusselse koerant Le Vingtième Siècle. Tussen 1929 en 1976 het Hergé 23 strokiesverhale geskryf en geteken (die 24ste verhaal bly onvoltooid).

Bestemming maan

In Die avonture van Kuifie – Bestemming maan word Kuifie, Spokie en kaptein Sardijn onverwags deur professor Sonneblom na die Sbrodjse Atoomnavorsingsentrum in Sildawië ontbied. Groot is hul verbasing toe hulle uitvind dat professor Sonneblom besig is om ’n reis na die maan te organiseer en van plan is om hulle saam te neem. Ná maande se voorbereiding vertrek hulle op die gevaarlikste reis wat nog ooit deur mense aangepak is…

'Verkenners op die maan' is die opwindende opvolg tot 'Bestemming maan'.
Image: Protea Boekhuis 'Verkenners op die maan' is die opwindende opvolg tot 'Bestemming maan'.

Verkenners op die maan

In hierdie opvolg tot Bestemming maan vlieg Kuifie, Spokie en kaptein Sardijn onder leiding van professor Sonneblom die ruimte in met ’n vuurpyl. Hulle avontuur raak nóg gevaarliker wanneer hulle op die maan land. Ten spyte van ’n hele paar noue ontkomings maak hulle wel groot wetenskaplike ontdekkings. Hulle wonder egter of hulle ooit weer die aarde veilig sal bereik.

OOR DIE OUTEUR

Die Belgiese skrywer en illustreerder Georges Prosper Remi, oftewel Hergé (1907–83), staan bekend as die vader van die moderne strokiesprent. Vir sy latere werke het hy uitgebreide navorsing gedoen om die verhale so outentiek moontlik te kon maak.

OOR DIE VERTALER

Sonya van Schalkwyk-Barrois woon in Parys, Frankryk. Sy het by die Universiteit Stellenbosch gestudeer en beskik oor ’n Magistergraad in Frans. Sy is ook die vertaler van die Asterix-boeke, wat ook deur Protea gepubliseer word.