Fiksie Vrydag | Marita van der Vyver se 'Grensgeval'

25 October 2019 - 12:01
'Grensgeval' deur Marita van der Vyver.
'Grensgeval' deur Marita van der Vyver.
Image: Penguin

Die brief wat Theresa tussen haar eksman Theo se besittings ná sy dood ontdek, skeur haar lewe oop. Jare lank het sy haar rug op Theo gedraai, ’n man wat sy laaste twee dekades in ’n inrigting moes deurbring. Só ook het sy die land se verlede weggestoot, die tyd toe tienerseuns gestuur is om aan die grens te veg – ’n plek en ’n oorlog waarvan mense tuis bitter min geweet het. Vir Theresa self was dit ’n tydperk van eerste liefdes, disko’s en vakansies by die see.

Theresa besef gou die brief is deur ’n Kubaanse soldaat aan sy kind geskryf – iemand wat, indien hy of sy nog leef, nou minstens veertig jaar oud sal wees. Theresa weet in haar siel sy moet Kuba toe: om die soldaat se kind te soek, om die brief te besorg, om boete te doen vir Theo se dade en vir haar eie onkunde. 

In swoel, afgeleefde Kuba, tussen kleurryke motors uit die vyftigerjare en geurige sigaarrook, word Theresa se soektog intiem vervleg met die lewens van mense wat in Angola as “die vyand” gebrandmerk is. Só ontrafel sy wat dit beteken het om groot te word in die Suid-Afrika van daardie tyd.

Uittreksel: 

Sy blaai deur ’n paar van die dun ligblou lugposvelletjies om seker te maak dat alles deur sy ma geskryf is. Dalk was daar ’n meisie wat elders op hom gewag het, vir hom kospakkies gepos het of bemoedigende boodskappe op die radioprogram Forces Favourites gestuur het. “Vasbyt, min dae. Aan Theo, iewers aan die grens, van jou verlangende meisie in Pretoria.” Tannie Esmé Euvrard se heuningstem Sondae oor die draadloos.

Maar dit lyk soos presies dieselfde suinige klein handskriffie op elke blou velletjie.

My liewe seun
Dankie vir jou briefie, hoor. Ek het dit oor en oor gelees. Ek het gister wol gaan koop om vir jou ’n trui te brei. Ek weet jy sal dit seker nie nodig hê daar bo in Suidwes waar dit altyd warm is nie en julle moet in elk geval seker heeltyd uniform dra, maar ag wat, dis eintlik net om my hande besig te hou terwyl ek en Pappa saans na die draadloos sit en luister. En dan het ek darem iets om vir jou te gee as jy die dag huis toe kom …

My liewe seun
Dominee het Sondag in die kerk so mooi gebid vir al die seuns op die grens. Ons het die kiekie van jou in jou “step-outs” geraam en langs die foon in die voorportaal neergesit. Pappa wil graag nog ene hê om op die nuwe TV neer te sit. Ja, ons het wraggies ook nou ’n TV gekry! Ons verkyk ons aan die toetsprogramme en ons kyk alles, selfs die kinderprogramme, so my breiwerk vorder natuurlik nou ’n bietjie stadiger. Ek het al ’n paar keer amper ’n lelike woord laat uitglip as ek steke laat val omdat ek nie my oë kan weg-skeur van die skerm af nie!

My liewe seun
Pretoria bly darem maar die mooiste stad op aarde as die strate so pers word van die jakarandas! Pappa het so ’n bietjie van ’n lenteverkoue, en Keiser is nou so oud dat hy nie eens meer vir die outa blaf wat in die tuin werk nie, maar verder gaan dit goed met ons. Dis net die verlange wat nou rêrig erg raak, hoor. Jou trui is uiteindelik klaar gebrei en ek kan nie meer wag om jou daarin te sien nie …

Ag, hemel, hier brand haar oë al weer. Theresa druk die brief terug in die boks. Dat selfs haar ongeliefde skoonma se onoorspronklike woorde haar vanaand tot trane kan dryf!

Sy dwing haar om deur die res van die inhoud te krap. ’n Kettinkie met sy soldatenommer en sy naam en bloedgroep en kerkverband op ’n silwerplaatjie gegraveer, ’n koperarmband en ’n gebreekte stringetjie krale, ’n paar koerantknipsels oor “gesneuweldes” wat met volle militêre eer begrawe word, heel onder op die bodem ’n klein groen notaboekie wat hy blykbaar as ’n soort dagboek gebruik het – kort slordige stukkies wat lyk asof hulle oorhaastig neergekrap is – maar ook kolomme syfers, rye name, los aantekeninge. Dít gaan sy beslis nie nóú probeer ontsyfer nie. Dalk op ’n ander dag wanneer sy minder weerloos voel.

Net voordat sy die boks toemaak, sien sy ’n reghoekige koevert wat tussen die blaaie agter in die notaboekie uitsteek. Sy haal dit uit, versigtig, want die papier is voos gevat en bruin gevlek en die ene voue asof dit in ’n stadium veel kleiner opgevou was. Dis die agterkant van ’n ligbruin koevert, soos dié waarin amptelike dokumente gepos word, met ’n groot donkerbruin vlek oor die linkerhelfte. Dalk die brief waarin hy opgeroep is om sy diensplig te verrig, raai Theresa, hoewel sy nie weet waarom hy dít so klein sou wou opvou soos iets wat jy moet wegsteek nie.

Dan draai sy die koevert om en sien die adres: Mercedes Perez Amat, Calle Obracate. La Habana Vieja. Cuba.

Nou éérs versigtig haal sy die brief uit die koevert, want die drie velle-tjies papier is selfs dunner as die koevert. Dis in Spaans geskryf, aan iemand wat – Que … ja? Queleda? Querija? – genoem word. ’n Naam wat sy moet raai omdat dieselfde donkerbruin vlek as op die koevert die letters onleesbaar maak. Van iemand wat Angel genoem word.

Engel?

Angel Perez Gonzalez.

Die bruin vlek op die papier is bloed, besef sy. Wat anders?


X