Idees vir opstelle

Sukkel jy met opstelle skryf? Fanie Viljoen het die oplossing!

13 December 2018 - 11:04
By Fanie Viljoen, fanie viljoen AND Fanie Viljoen

Dis ’n feit: min leerders kan opstelle skryf. Een van hulle probleme is hulle kan nie ’n storie vertel nie. Ja, hulle kyk baie televisie en flieks, maar hoe vertel jy ’n treffende storie met net enkele woorde?

Hier is ’n maklike manier om ’n idee vir jou opstelle te kry.

LEES FABELS.

Jip, doen net dit. Fabels vertel eenvoudige verhale met min woorde. Hulle is kort, treffende stories – ’n goudmyn vir ‘n sukkelende opstelskrywer.

As ek ’n onderwyser was, sou ek leerders vra om ten minste ’n paar fabels te lees sodat jy ’n ordentlike klompie stories in jou arsenaal het.

Die leerders moet verstaan waaroor die verhaal regtig gaan. Ja, oukei, die lewenslessie.

Lees byvoorbeeld hierdie een van Esopus: Die hond en die weerkaatsing

Of kyk dit op YouTube:

Wat is die kern van die verhaal? ’n Gierige hond verloor iets kosbaars omdat hy iets beter begeer, en uiteindelik sit hy met niks.

Kan ’n leerder hierdie gedagte gebruik om ’n opstel te skryf?

Beslis!

Gebruik dieselfde idee, maar vertel dit in ’n hedendaagse konteks – een wat die tiener ken en elke dag beleef.

Byvoorbeeld: ’n Meisie het ‘n wonderlike ou, maar dan sien sy ’n ander ou wat aantrekliker/ouliker/sterker is. Sonder seremonie dump sy die eerste ou, maar dan vind sy uit dat die tweede ou nie in haar belangstel nie. Uiteindelik is sy alleen.

Dit is niks minder as die bekende fabel nie, maar met ’n nuwe baadjie.

Dis ook nie ’n aardskuddende idee nie, maar dis ’n klassieke verhaal wat enige leerder sal kan skryf.

Probeer dit gerus as ’n skryfoefening in die klas en kyk of dit vir jou leerders kan werk.

Besoek gerus ook my webblad: www.fanieviljoen.co.za