Franz Marx bespreek sy debuutroman, Johannesburg se onderwêreld, en die verminking van Afrikaans

13 January 2019 - 15:49 By Mila de Villiers and protea
subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now
Franz Marx - skepper van Egoli én nou boonop romanskrywer!
Franz Marx - skepper van Egoli én nou boonop romanskrywer!
Image: Verskaf.

Joe Minnie se lewe raak verweef met dié van een van die rykste besigheidsmanne in die land. Sy opdrag is om Dolf Eksteen met sy lewe te bewaak. Dolf se weelderige bestaan word versuur deur bedelbriewe, afpersboodskappe en doodsdreigemente, en die beeldskone Belinda Eksteen, ’n opkomende vermaaklikheidster, is soos ’n emosionele en finansiële tikkende tydbom aan sy sy.

Met ’n rolverdeling wat ’n deursnit van die Suid-Afrikaanse gemeenskap bied – die onaantasbares, die onderdruktes, die onderduimses – word Spieëlbeeld ’n intense en meesleurende, psigologiese karakterstudie wat nog vir lank by die leser sal spook. ’n Wêreldklas spanningsverhaal waartydens die leser die speurder is.

Ons redaktrise, Mila de Villiers, het onlangs met Franz Marx, die skepper van Egoli, dramaturg, en filmmaker, geklets oor sy debuutroman Spieëlbeeld, Johannesburg se onderwêreld, die kunsmatigheid van die samelewing, en - moontlik die mees pertinente deel van die gesprek - die verminking van Afrikaans:

Waar het jy met die idee vorendag gekom om ’n roman te skryf?

Ek het uit die film- en televisiewêreld uitgetree - weg. Maar mens moet jouself besig hou. En ek het dit geskryf want ek wil nie meer tekste skryf nie. So dit was ’n keuse, verhaal-gegewe. Soos wat ek gewerk het, deur my televisieloopban veral, was ek verantwoordelik vir verskriklik baie stories. Dis nou die een ding. Ek moes ’n laai gehad het met stories. Om jou ’n idee te gee - ek moes elke dag van my lewe voorsien vir EgoliEgoli se stories het ’n hoof-storielyn gehad, dan het hy een van ’n periode van 40 stories, dan ’n substorie van 30, kleiner substorie van ’n episode vir 20 episodes en dan is daar die insidentele storielyn wat ’n dag of twee oorvat. Helfte van daai storie was gekoppel aan ’n karakter, anders was die spelers te veel gewerk. As ek aan ’n storie gedink het, het ek dit neergeskryf. Daar was ’n laai vol, want ek kon nooit uit ’n storie uithardloop nie. Ek het dialoogskrywers gehad, mense wat my gehelp het en gesê het "dis nou ’n twak ou storietjie wat jy hier uitgedink het" of "ja - dis nogal lekker, maar wil jy nie so kinkel daaraan gee nie?"

Een van die stories wat onvoltooid was vir my - dit was nie ’n Egoli storie gewees nie - een van daai stories wat iewers was, was hierdie ding. En hy het by my gekom oor die Lolly Jackson saak. Lolly Jackson - ek wil net dadelik sê dit is nie sy storie nie, hoegenaamd glad nie. Maar Lolly Jackson het vir my in sy wêreld ingevat en vir my gewys hoe werk alles en ons het ’n gemeenskaplike ding gehad oor karre. So ons het lekker gepraat. So het daai wêreld vir my - wat ’n vreemde wêreld was - op ’n manier vir my oopgemaak. Toe's Lolly vermoor ... En ek wou nie Lolly se storie nie- Hy het vir my sy boek gebring en gesê "jy moet 'n film maak hiervan", maar dit was nie verfilmbaar nie. Toe dink ek "oukei, ek sal die ding op sy kop draai en ’n storie maak oor die goed wat ingekom het" en basies net alles omgedraai.

Een lyfwag, oftewel bouncer, wie Marx destyds teëgekom het is "baie soos Joe, daai ritme van praat.

"Behalwe Joe is ’n ander karakter, hy kom uit Pretoria uit. Ek het hier [die Michelangelo Hotel in Sandton] gebly en dis waar hulle uitgehang het. Al die mense wat hier ingeboek het, het altyd hulle lyfwagte gehad. Dit is die plek waar ek vanoggend ontbyt geëet het, middagete, en aandete. Jy leer die mense ken. En dis waarvan die lyfwagte vandaan kom. Toe kom ek op Stellenbosch met niks om te doen nie, toe dink ek "ag, ek sal maar begin skryf aan ’n storie". En ek wou nog altyd, maar ek het nooit die tyd gehad nie... Ek het gedink "skryf dan nou maar ’n dêm roman". Maar dit was harde werk...

Hoe lank het jy hieraan geskryf?

Jy moet net onthou Virgilius het een sin ’n dag geskryf. Hierdie het my net langer as drie jaar geneem. Carla [Lang, sy uitgewer by Protea Boekhuis] het my so baie gehelp... Dis vir myself; ek het dit ook vir myself geskryf. Carla was soos ’n onderwyseres. Ek het haar baie waardeer, so ek hoop die boek is ’n sukses vir haar ook.

Is daar ’n spesifieke reaksie wat jy hoop deur die boek ontlok sal word?

Dis maar ’n onsekerheid, maar ek het al baie goed geskryf in my lewe, baie stories. Party het gewerk, party het nie gewerk nie. Ek het boek twee wat ek moet skryf; ek sal moet vinniger werk.

Word jy aangsepoor deur die slagspreuk "Werk want die nag kom nader", of werk want die dood kom nader?

Die kop verdwyn! [Lag hartelik]

Mens leen maklik fiksie van nie-fiksie; hoeveel van die inhoud van die boek stem ooreen met jou eie lewe, of ervaringe?

Baie min. Die enigste ding - Carla sê altyd vir my "Oe, mens herken altyd die skrywer se stem wat dit beskryf" en dan sê ek "ek hoop nie sy herken my in Joe of herken my in Dolf nie". Die enigste ding wat ek werklik gebruik het van my persoonlike lewe was my verjaardagdatum. [Marx verjaar op 21 Maart.] Daardie is ’n stukkie persoonlike - dit het dit maklik gemaak om die datum te gebruik. Die datum het ’n ander konnotasie. Kyk - dis die einde van iets en begin van die volgende, dis dag en nag ewening vir ons dwarsdeur die wêreld, en dit het my gefassineer. So dis die einde en die begin vir Dolf gewees. Dit het vir my nogal getrek. Maar dit is al wat ek bewustelik gedoen het - die Johannesburgse milieu het ek 50 jaar gelede in geleef. Dis nou waar ek bietjie wakker geskrik het, want alles verander toenemend. Die Butcher's Grill bestaan nog ... So ek het die milieu wat ek geken het gebruik. Dis beter om iets te skryf wat jy basies van weet.

Kon jy aanklank vind by enige van jou karakters? Het jy dit meer geniet om sekere karakters te skryf as andere?

Laat ek vir jou dit sê - wat die karakters betref - ’n storie is vir my nie ’n storie as dit nie ’n karakter is wat ontwikkel nie. So ek is altyd verlief op my karakters, verskriklik verlief. Ek raak verlief op my karakters en ek raak ook baie jaloers op hulle.

Hoe was dit om vrouens te skryf? Jy skryf nooit vanuit ’n vrou se oogpunt nie, en ek wil hulle nou nie beskryf as "randfigure" nie, maar...

Jy sit jou vinger op dit. Ek het my hele lewe nog nooit ’n storie - voor hierdie een - geskryf oor mans, vir mans nie. Alle films, alle televisiegoed se teikenmark is vrouens. Jy vertel jou storie uit die vrou se perspektief en as die storie by die vrou werk, dan geniet mans dit ook. En toe ek nou met hierdie ding kom, veral oor die milieu, het ek besluit "nee, nee, nee - dit moet uit die man se perspektief kom". Daar's genoeg vrouens wat dit uit ’n beter en makliker en meer oortuigende wyse, van binne af, kan skryf.

My vriendin Karin Eloff, sy't Stiletto geskryf en het ’n inset daarin gehad, maar so ek is baie lief vir die vrouens en hulle het vir my ’n goeie lewe gegee ... Maar dit is teiken, Egoli was ’n teikengehoor - dit was ’n opdrag van MNet gewees; dit was vrouens. Tussen 35 en 45 jaar oud .... Hulle's getroud, hulle het twee kinders, ek kan hier met jou in die straat loop en sê "daar gaan sy, daar loop sy". Ek het geweet wat sy koop by Thrupps, ek het geweet haar man is ’n prokureur ...

Jy moet die mark baie goed ken. En al die ander - Agter Elke Man was vir vrouens. Die skool daar selfs was vir die vrouens, die kinders en toe nou hierdie ding - toe dink ek nou, try nou ’n man se storie vir mans skryf. En dis waarvoor ek die heeltyd bang is. Want vrouens lees; hulle doen alles. Die vrouens besluit watter programme gekyk word in hulle huis, die vrouens is die lojale kykers van stories, behalwe die sport, en die vrouens bepaal die vermaaklikheid van die huis. Die vrou sê "ons gaan na daai teaterstuk toe", die vrou sê "ons gaan daai rolprent kyk". Dis die invloed van die vrou. Ek dink die meeste boeke word gekoop deur vrouens; ek dink die meeste boeke word geskryf deur vrouens.

 Joe se taalgebruik het my bygeval. Hy meng sy taal iets verskriklik en gebruik gereeld sy eie, "Centurion-esque" weergawe van woorde. Hoe, aangaande sy woordeskat, het jy daarin geslaag om hierdie karakter, op ’n egte wyse sonder om ’n bespotting van hom te maak, te skep?  

Hulle praat deesdae so. Kyk kykNET - kyk as hulle met enige van die jong sangers ’n onderhoud voer, kyk net - dan sal jy dieselfde taal hoor. Dit is verskriklik. Joe se tipe taalgebruik pas pas in daai milieu in, as jy in gimnasiums ingaan  waar die mans gaan  oefen, dan hoor jy dit. Dit is ’n effense lae ding. Joe het nooit matriek gemaak nie en daarna is hy na die polisie korps. Hulle het swagger. Dis daai tipe ding.

Iets waaroor ek en die uitgewers die heeltyd oor gepraat het was my oortuigings dat hierdie mengeltaal wat die taal so bevuil - daar's nie ’n ander woord om dit voor te gebruik nie ; die taal bevuil -  is nie Engels nie, dis Amerikaans. Dis Amerikaanse slogans, dis Amerikaanse "wyshede" wat deur televisie, films en musiek opgeneem word en sommer net gebruik word as 'n "with-it" ding deur tieners. En dit het nou ingeburger geraak. En ons sê dis ’n mengeltaal tussen Afrikaans en Engels - die Engelse gebruik nie ’n woord soos "amazing" nie, of dis "cool", of enigiets van die aard nie. En ek wou gehad het hulle moes die Amerikaanse spelreëls vir die storie gebruik en daar het hulle my gesê "nee". Hulle het my toe op die ou-end oortuig, maar eintlik is dit waarheen mens op pad is.

Dink jy so? Dat Afrikaans so gaan verval?

Ek dink hy het klaar so verval. Ten minste glo ek dat die rooiligte... dit het niks met die Taalstryd uit te waai nie, dit is ’n ander storie - hierdie is ’n bydraende storie. Ek het vreeslik baie argumente met mense wat in die taal werk. Ek dink nie dit is ’n ontwikkeling in die taal nie, ek dink dit is teen-produktief, want dit verskraal. Ek het vir Joe ’n woordeskat van 800 woorde gegee. Dis nie eers ’n taal nie. Ons kan duisende woorde gebruik. Afgesien daarvan, die karakters is vir my tipies soos wat ek hulle hier ontmoet het en leer ken het en met hulle gepraat het, en dan probeer ek hulle reg Afrikaans leer - maar dit het nie gewerk nie. Daar is ’n metafoor in die storie; daardie taalgebruik maak goeie taalgebruike waarskynlik dood.

Geen van die Engelse woorde is in skuinsdruk geskryf nie. Is dit met opset gedoen?

Dit was met opset, want die mense praat nie in skuinsdruk nie, vir hulle is dit normale Afrikaans. As ’n skrywer het ek my voet neergesit - dit moet gewoon vol deurgaan. Dit is soos die mens praat, hy vertel sy storie in die eerste persoon, en dis hoe hy dit sal vertel.

Jy bedank onder meer patoloë en geweerdeskundinges wat vir jou raad gebied het. Het jy baie hulp nodig gehad met die navorsing?

Mens het altyd. Ek het mense mal gemaak, want dan verstaan ek dit nie eintlik nie. Ek het ’n seun wat ’n skut is, so dit het my nogal ’n bietjie gehelp, maar, ja, die navorsing daar was verskriklik. Dis een van die goed waarom dit stadig gegaan het, want in my vorige lewe - soos byvoorbeeld in Egoli - het ek assistente gehad. Ek het vir hulle gesê "hoor hierso, wat is ’n tipiese pistool wat ek kan gebruik vir ’n moord pleeg?". Dan sal iemand sê "Glock".  Hulle gaan vind vir my alles uit, bring als vir my, en sal daarna kyk. Nou moet ek self daai blêrrie goed gaan doen. As ek nou weer 'n storie skryf, moet daar geen navorsing wees nie. Dit hou my te veel op.

Was dit meer van ’n uitdaging gewees om die navorsing te doen as om die eintlike storie te sit en skryf?

Selle, selle, selle. Oor die kléinste goed. Die kléinste goedjies. Ewe skielik sê jy "oeps, werk dit rêrig so?" Dis fiksie, dis nie ’n dokumentêre... Dit moet darem so wees dat iemand nie sê "Nee, jirre, nou lieg jy maar verskriklik" ... Dis die navorsing.

Die titel "Spieëlbeeld" is interessant aangesien ’n spieël ’n  dubbelsinnige voorwerp is, waarin weerkaatsings  letterlik in teenoorgestelde beelde verskyn, tog word ’n spieël ook gebruik as ’n voorwerp waarin jy jou bewonder (soos gesien in die geval van Joe, veral). Kan jy dalk bietjie uitbrei oor die dubbelsinnigheid van jou karakters sonder om te veel te verklap?

Die twee karakters [Dolf en Joe], op ’n vreemde manier, is verwronge beeld van die ander. So, Dolf kan ook ’n verwronge beeld wees van Joe se pa. Die milieu waarin ons woon hier is een van glas. Kyk om jou [Marx beduie na die binnehof van die sierlike Michelangelo Hotel] - jy sien net spieëls; dis waarin jy leef, daar's niks warms nie, daar's niks toegeneentheid nie. Dit is waarin die storie hom afspeel, in die spieël - jy kan nie aan ’n ding vat. Dit het my nogal lankal as ’n soortvan omstandigheid waarin ons leef ...  Dolf leer ons ken voor die spieël, maar as jy Joe die eerste keer sien, sal jy sien hy sit op ’n blink stoep waarop alles terug weerkaats. Op ’n ander stadium sê iemand vir Joe hy lyk soos ’n bobbejaan, hy't gekyk in die spieël - hy lyk nie so nie. Jy kan dit nie ontsnap nie en dis nie die werklikheid - en dis baie kunsmatig.

Is daar moontlik ’n vraag oor die inhoud van jou boek wat jy gebrand om gevra te word?

Oor die taal. Ek sou graag dat die mense die bedoeling van daai taal as ’n waarskuwing lees. Ons verstaan dit as "cool" as ons ons eie taal met ander tale vermink, en ek praat nie van leenwoorde nie. Ek is nie anti-Engels nie, ek is verskriklik pro-Engels. Dit is net vir my onaptytlik lelik. Ek sit en kyk na Afrikaans, ek hoor dit oor die radio en dit gryn my. Mens probeer dit doelbewus vermy om jou taal te meng, maar mens moenie. As jy Engels praat, dan probeer jy dit nie vermy nie.

subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now