Internasionale regte verkoop vir Irma Venter se topverkoper-misdaadreeks

Amazon Crossing het die wêreldregte bekom vir die eerste twee boeke in Irma Venter se uiters gewilde S-reeks

18 April 2019 - 12:44 By nb-uitgewers/publishers
subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now

Amazon Crossing, ’n druknaam van Amazon Publishing, het die wêreldregte bekom vir die eerste twee boeke in Irma Venter se uiters gewilde S-reeks, Skoenlapper (2012) en Skrapnel (2013).

Die veelbekroonde vertaler Elsa Silke is verantwoordelik vir die vertaling daarvan. Hard Rain sal vroeg in 2020 verskyn, terwyl Shrapnel teen Oktober 2020 gepubliseer sal word.

Amazon Publishing is ’n toonaangewende uitgewer van handelsfiksie, niefiksie en kinderboeke met kantore regoor die wêreld, en Amazon Crossing is hul druknaam wat fokus op vertaalde letterkunde.

Redaksiehoof Gabriella Paige-Fort hoop om Venter as ’n internasionaal gerekende misdaadskrywer te vestig. "Ek dink ons gehoor sal aanklank vind by hierdie boeke [Skoenlapper en Skrapnel] en sal 'n goeie plek wees om Irma Venter as ’n internasionale handelsmerk te begin bou.”

Hierdie nuus volg op die plaaslike vrystelling van die Engelse weergawes van Venter se jongste misdaadromans, Sirkus en Sondag, onderskeidelik vertaal deur Elsa Silke (Circus) en Karin Schimke (Blue Sunday).

In ’n onlangse CapeTalk-resensie van Circus sê John Maytham dat hy veral beïndruk is deur haar sterk vrouekarakters en boeiende intriges. “Sy het ’n wonderlike sin vir dialoog en ’n oog vir aksie. Haar boeke stu voort teen ’n meedoënlose pas. Ek het baie, baie daarvan gehou.”

Irma Venter word algemeen beskou as een van die topskrywers in die Afrikaanse misdaadgenre. Die vertaling van haar werk vergroot haar lesersgehoor en bied vir meer boekwurms die geleentheid om haar lekkerleesboeke te geniet.

Olga Wyngaard, hoof van kontrakte en regte by NB-Uitgewers, is verheug oor dié nuus. “Ek is werklik opgewonde oor hierdie wonderlike geleentheid vir Irma. Die geleentheid maak dit moontlik dat Irma se wêreldklas-spanningsverhale internasionaal geniet en gewaardeer kan word. Dit was ook ’n noemenswaardig aangename ervaring om saam met die Amazon Crossing-span aan die onderhandeling van hierdie ooreenkoms te werk.”

Die skrywer is self opgewonde oor die jongste verwikkelinge. “As skrywer wil mens graag jou storie aan soveel mense moontlik vertel. Mens skryf vir ‘n gehoor en enige kans wat jy kry om die gehoor groter te maak is voorwaar wonderlike nuus. Ek is dankbaar vir die fantastiese ondersteuning wat my boeke in Suid-Afrika kry en hoop die S-reeks sal dieselfde ondersteuning oorsee geniet. Dankie aan Human & Rousseau, NB-Uitgewers en Amazon Publishing wat die ooreenkoms moontlik gemaak het.”

Venter is ’n joernalis by ’n mediamaatskappy in Johannesburg. Sy het in 2012 die Siemens Profile-toekenning vir haar skryfwerk oor Wetenskap en Tegnologie ontvang. Sy het ook die ATKV-Woordveertjie vir ’n spanningsverhaal ontvang vir Skoenlapper. Die ander romans in die reeks is Skrapnel (2013), Sondebok (2014), Skarlaken (2015), Sirkus (2017) en Sondag (2018) – almal blitsverkopers uitgegee deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers.

Besoek Irma Venter se webblad.

subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now