Wenner van Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie 2019 aangekondig

Pieter Odendaal is vir sy oorspronklike en verbeeldingryke debuutbundel, 'Asof geen berge ooit hier gewoon het nie' met dié gesogte prys bekroon

02 July 2019 - 14:41 By Ingrid Jonker-komitee
Die omslag van Odendaal se bekroonde bundel, 'Asof geen berge ooit hier gewoon het nie'.
Die omslag van Odendaal se bekroonde bundel, 'Asof geen berge ooit hier gewoon het nie'.
Image: NB Uitgewers

Die wenner van die Ingrid Jonker-prys vir 2019 is op Sondag, Junie 30 aangekondig. Dit is Pieter Odendaal vir sy bundel Asof geen berge ooit hier gewoon het nie (uitgegee deur Tafelberg Uitgewers).

’n Rekordgetal van 17 bundels is voorgelê en die kompetisie was besonder straf. Die ander twee digters op die kortlys was (alfabeties) Corné Coetzee vir Nou, hier en Jolyn Phillips vir Radbraak (albei uitgegee deur Human & Rousseau).

Die grootste verdienste van Odendaal se bundel is volgens een van die drie beoordelaars “die oorspronklike, verbeeldingryke en vernuftige wyse waarop hy die huidige Suid-Afrikaanse samelewing in ’n toestand van ‘op-weg-wees’ uitbeeld”.

Lesers word gekonfronteer met vrae rondom persoonlike betrokkenheid en aandadigheid, historiese verbande en erfenis, verantwoordelikheid, en ander verwante vraagstukke.

Die sukses van die bundel berus nie slegs op die hantering van hoogs aktuele tematiek nie, maar “op ’n deurlopende toepassing van ontwikkelde verstegniek om dit lewend en skrynend te maak”.

Die ongewone bundeltitel, Asof geen berge ooit hier gewoon het nie, vang die aandag vas deur die oproep van “’n alternatiewe, ongeskonde bestel, ’n natuurlike oerbestaan sonder die eietydse problematiek wat deur menslike intervensies geskep is. Die vraag wat bly hang, is wat die mens te doen staan om sin te maak van die gevolge – op sigself ʼn boeiende gedagte.”

Die kanon word verryk “met ’n vars en ongewone vorm van betrokke literatuur”. Die hantering daarvan is besonder volwasse: “Die gedagtegoed is verruimend en die verstegniek reeds gevorderd en skerp. Ook ten opsigte van diepte en wydte van sowel die denke as die verbeelding, die taalvernuf en die gesuggereerde tematiese samehang” is dit ’n wenbundel.

Die beoordelaars het ook groot lof gehad vir die ander twee bundels op die kortlys.

Corné Coetzee se Hier, nou word bestempel as “’n besondere debuut, ’n digte teks waarin die talige selde die aandag vir sigself opeis, maar so keurig versorg is dat dit wat anderkant die talige aanbod lê, die fokus van die leser se aandag word, om weer láter te besin oor presies hoe stip die taal aangewend is. Dit is ’n bundel wat spreek van rypheid, oorwoënheid en menslikheid”.

’n Ander beoordelaar skryf dat hoewel die tematiese inkleding rondom die persoonlike sentreer (die huis, gesin en aktiwiteite wat daarmee verband hou), is die werking daarvan eksemplaries: “Dit is die agterdoek waarteen die algemeen-menslike situasie, en veral die tragiek van gebrokenheid, onvrede, buitestaanderskap en desillusie, hom afspeel – as metafore vir die bestaansituasie, maar ook as eenheidskeppende faktor.”

Jolyn Phillips se Radbraak word as ’n “merkwaardige” debuutbundel beskou, veral deur die “volgehoue verkenning van gebrokenheid en gebroke taal”. Die benutting van die taal van verskillende streke, soos Gansbaai, Perdeberg en die Kaapse Vlakte, asook van isiXhosa, is “’n verfrissende toevoeging tot die Afrikaanse digkuns”.

Die karakters en stemme wat in hierdie toeganklike, sterk en afgeronde bundel aanwesig is, “kompeteer nie met mekaar nie en hierdeur normaliseer Phillips amper hul uniekheid”, lui ʼn ander verslag. Die digter is in beheer van haar stof en die kwesbaarheid van mense in haar omgewing word met “sagtheid” aangebied. Die liriese kwaliteit van die verse word ook aangeprys – die sangerigheid van sommige gedigte word as “sjarmant” beskou.

Die Ingrid Jonker-prys word jaarliks beurtelings toegeken aan ’n Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel – die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Die beoordelaars was die digters Zandra Bezuidenhout, Martjie Bosman en Ronelda Kamfer.

Die komiteelede is almal vrywilligers: Ronel de Goede (Foster) is die sameroeper, en die ander lede is Finuala Dowling, Vincent Oliphant, Kobus Moolman en Marius Crous. Danie Marais, vorige sameroeper, tree as adviseur op.

Die prys word op September 14 by die Tuin van Digters in Wellington oorhandig. Die prysgeld van R10,000 is ’n skenking deur die Dagbreek Trust.

  • Artikel verskaf deur die Ingrid Jonker-komitee

VERWANTE ARTIKELS 

X