Staan die kans om drie puik Penguin Random House-titels te wen!

Een gelukkig leser kan 'n geprese roman, 'n versameling spitsvondige stories en 'n oorsig van die Gert van Rooyen en Joey Haarhoff-sage wen

30 July 2019 - 11:55 By penguin random house sa
subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now
'Aankoms en vertrek' is die bekroonde skrywer Pat Stamatélos se nuutste roman.
'Aankoms en vertrek' is die bekroonde skrywer Pat Stamatélos se nuutste roman.
Image: Umuzi

Aankoms en vertrek
Pat Stamatélos

Bailey Kellerman verlaat Suid-Afrika finaal ná nog 'n liefdesteleurstelling deur haar eerste liefde, Adam. Hulle het 'n aan-en-af-verhouding sedert hulle jong dae, maar Adam verneuk haar gereeld en kom nie tot trou nie.

In London trou sy met 'n Fransman, maar word ook deur hom in die steek gelaat. Terwyl sy oorsee is, word haar ouers wreed in hul huis in Johannesburg tydens 'n rooftog vermoor.

Haar broer, Zak, daag woedend by haar huis op en dring daarop aan dat sy terugkom Suid-Afrika toe.

Hy verwyt haar ook dat sy nie by die begrafnis was nie, min wetend wat haar omstandighede daardie tyd was.

Sewe maande later is Bailey terug in Suid-Afrika, maar iewers is daar 'n slang in die gras. Hoekom het haar pa nie die kluis tydens die rooftog vir die rowers oopgemaak nie? Wat is in die toegesluite kluis? En gaan Adam weer amok in haar lewe kom maak?

Al gewonder wat ’n huilboerboom, meelwurms, kofia, ietsjoebeentjie, sandkombers of kamdebooharpuisbos is? Dié versameling verduidelik als...
Al gewonder wat ’n huilboerboom, meelwurms, kofia, ietsjoebeentjie, sandkombers of kamdebooharpuisbos is? Dié versameling verduidelik als...
Image: Penguin Random House

Opstokers, Fopdossers en Tweegatjakkalse
Herman Lategan

Herman Lategan se verhouding met Afrikaans is soos 'n huwelik: stormagtig, uitbundig, wild, liefdevol. Hierdie versameling stories en besinnings uit die immergewilde skrywer se "Woorde wat wip"- rubriek wat tweeweekliks in Rapport verskyn, sal lesers met selfs die stroefste hallelujagesigte opkikker.

In hierdie boek kry jy insae in hoe stories rondom woorde gevorm word. Herman kies telkens 'n woord en bou 'n storie om dit. Die inhoud val uiteen as 'n tipe abecedarium – speelse inskripsies volgens die letters van die alfabet, dikwels met woorde wat nie meer alledaags gebruik word nie of die gevaar loop om in onbruik te raak.

Herman is nie bang om (soms geniepsige) sosiale kommentaar te lewer nie, en van die stories handel oor verlies, verlange, patos; ander is sommer laf of selfs katterig. 

Al gewonder wat 'n huilboerboom, meelwurms, kofia, ietsjoebeentjie, sandkombers of kamdebooharpuisbos is? In hierdie boek word dié woorde, en vele meer, geaktiveer as spilpunte waarom heerlike stories verweef is. Ideaal vir proe-proe lees op enige plek waar jy jou sit of lê die lekkerste kry.

Joernalis Pieter van Zyl gee in hierdie boek ’n volledige oorsig oor die sage van Gert van Rooyen en Joey Haarhoff.
Joernalis Pieter van Zyl gee in hierdie boek ’n volledige oorsig oor die sage van Gert van Rooyen en Joey Haarhoff.
Image: Penguin Random House

Gert & Joey
Pieter van Zyl

Pedofilie. Ontvoering. Moord? In Suid-Afrikaners se koppe het hierdie begrippe sinoniem geword met die name van Gert van Rooyen en Joey Haarhoff.

In die 30 jaar sedert die tragiese verdwyning van ses jong skoolmeisies en die dramatiese skietdood van die land se berugste paartjie, hang onbeantwoorde vrae steeds in die lug. Die makabere raaisels wat hulle agtergelaat het, het nie saam met hulle gesterf nie. 

Joernalis Pieter van Zyl gee in hierdie boek, waarvoor hy eksklusiewe toegang tot Huisgenoot se uitgebreide argief gehad het, ’n volledige oorsig oor dié sage.

Die jongste insigte en ervarings van rolspelers wat direk by die saak betrokke is en was, word ook betrek – nie net aan die kant van die slagoffers nie, maar ook aan die kant van die vermeende "monsters".

Kenners, waaronder sielkundiges, kriminoloë, baasspeurders, handskrifontleders en selfs sieners, verskaf 'n sonderlinge blik op die gebeure wat by Suid-Afrikaners bly spook. 

Die tragedie verkry 'n nuwe dimensie wanneer dit gekaats word teen die agtergrond van Suid-Afrika drie dekades gelede. Dit blyk ook dat Van Rooyen en Haarhoff nie in isolasie kon optree nie, maar waarskynlik deel was van 'n uitgebreide misdaad-netwerk. Hierdie boek sal niemand koud laat nie.

Een gelukkige leser staan die kans om ál drie titels te wen. Skryf in deur die volgende vraag te beantwoord: wie is die skrywers van die bogenoemde boeke? Stuur jou antwoord na Mila de Villiers (mila@book.co.za) teen Dinsdag, Augustus 6. 


subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now