"Ek wou dit 'push' van die begin af" - Johan Jack Smith bespreek 'Zola'

01 November 2019 - 14:38 By Mila de Villiers and penguin random house sa
subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now

Johan Jack Smith, Taalgenoot-redakteur, digter, woordenaar en bekende gesig op die ~alternatiewe~ Afrikaanse scene (destyds selde sonder 'n glas whiskey in die hand...), se debuutroman Zola is onlangs deur Penguin uitgegee. 

Dié riller neem die leser op 'n wille rit deur Johannesburg: 'n reeksmoordenaar pleeg 'n rits gru-moorde in die naamgewende minibus taxi - 'n skedonk van 'n voertuig wat omskep word in 'n toneel van snode misdade wat teen vroulike slagoffers gepleeg word.

Smith stel voor dat ons by die Whippet in Melville rendezvous - "ek smaak daai lemon meringue skommel stukkend."

En met rede. (#NotAnAd)

 

Zola: 'n opsomming

Smith steek 'n Pall Mall Blue aan en teug peinsend daaraan terwyl hy aan vyf woorde dink om sy debuut mee te beskryf.

"Stadsroman," laat hy weldra hoor, "buite die genre ... realisties ... ongenaakbaar.

"Hoeveel bly daar nog oor?" onderbreek hy homself en lag half-verlig toe hy hoor dis (streng gesproke) genoeg woorde. 

'Buite die genre' kan beslis toegepas word op die aard van sy protagoniste se karaktereienskappe en verhouding met mekaar.

Smith beskryf karakters in speurverhale as "troubled ouens wat gewig dra" (partymaal letterlik...), maar "hierdie ouens is nogal smooth".

'Hierdie ouens' verwys na kaptein David Majola en adjudant Jason Basson.

Majola is oorspronklik van die township Alexandra afkomstig, maar het in die eg-Afrikaanse woonbuurt Linden grootgeword. Anders as jou meer argetipiese speurders wie met alkoholisme worstel, het Smith vir Majola 'n kokaïen-verslawing gegee. 

Smith lag eers lekker. "Dis die aard van Jo'burg. Dis so 'n algemene ding. Jy kan by 'n braai aankom en weet iemand gaan dit gebruik. Dis nie net supermodelle of die skatrykes nie. Soveel gewone mense struggle ook daarmee..."

Basson aan die ander kant moes liefs die mag jare terug verruil het vir 'n lewe waaraan hy hom aan sy gesin kan toewy en afstand neem van die harregat houding waarmee sy pa - 'n voormalige polisieman - hom mee grootgemaak het.

Ja-nee, hulle het probleme, "maar die vrouens dink hulle is aantreklik en al daai goed," sê Smith.

Colin Farrell en Jamie Foxx se karakters in Miami Vice het 'n noemenswaardige rol gespeel in die skep van Majola en Basson, gaan hy voort. "Hulle's smooth, hulle's windgat. In plaas van nog 'n troubled karakter wat sukkel met erectile dysfunction en daai tipe kak..." dwaal Smith af met 'n oogrol soos hy sy sigaret netjies dooddruk. 

Dink twee maal voor jy weer 'n Zola wil zap...

Smith het tydens die Johannesburgse bekendstelling van Zola vir die gesprekvoerder (hoesit, Jo P!) laat weet dat die skryf van die roman hom meer empaties teenoor taxibestuurders gelaat het ingevolge hulle persoonlike lewens of huishoudelike omstandighede wat deur dié bedryf geraak word. 

"Dis 'n rowwe bedryf," sug Smith kopskuddend. 

Hy het tydens sy navorsing op 'n tesis afgekom wat deur Andries Bezuidenhout gemodereer is. Bezuidenhout se student het juis geskryf oor 'n 'agter die skerms' blik op die lewens van Suid-Afrika se taxibestuurders. 

Die feite lyk bra goor. 

99% van taxibestuurders ry vir iemand anders, hulle moet ongeveer 3h in die oggend al opstaan, menigte van hulle bestuur tot die volgende aand om 20h.

Hierdie veeleisende ure beteken dat taxibestuurders hul na muthi wend in 'n poging om wakker te bly, maar dié omskep hulle in aggressiewe wesens... 

Die bedryf word boonop nie gereguleer nie, bestuurders ontvang nie vasgestelde salarisse nie, en hulle word nie siekverlof gegun nie. 

"Hulle sukkel," laat Smith van hom hoor. 

Egoli: plek van ken

'Stadsroman' is 'n gepaste beskrywing van Zola: buiten die fisiese ligging, verleen die sogenaamde stad van goud haar ook aan alle aspekte van wat mens as 'n egte, rou, lewendige stad beskou - van sosio-ekonomiese ongelykhede tot uiteenlopende woonbuurte tot misdaad tot suipkuile: Johannesburg het dit als.

Tog hou Smith vol dat Zola in enige stad buiten Johannesburg kon afspeel. 

"Umm ... ek dink so ja ... Daar's maar orals taxi's - wat daai aspek betref; daar was orals onluste in die 80s gewees ... apartheidsmisdade," oorweeg hy. 

Smith het spesifiek op Johannesburg besluit "want dis 'n stad wat ek ken" en - herinner hy ons gou - dis 'n goue reël wanneer dit by woordsmousery pleeg kom: skryf. wat. jy. ken. 

Beter dae, maar vandag was nie so kak nie 

Alhoewel die moordenaar se slagoffers almal vrouens is, is geslags-gegronde geweld nie iets waarop Smith per se kommentaar wou lewer nie.

Hy het vooraf min of meer geweet waaroor die storie gaan en wat die moordenaar se motiewe was.

"Nadat ek die boek geskryf het, het ek vir myself gesê 'shit, hier's nie baie sterk vroue karakters in die boek nie', behalwe sê nou maar vir Martie Bam wat baie ambisieus is, ensovoorts."

Bam is 'n ywerige jong joernalis wat nie skroom om die reg te omsingel óf haar seksualiteit uit te buit vir 'n storie nie.

"Vrouens was ook 'n makliker opsie om te kies as slagoffers," voeg hy by, maar om spoilers te vermy, gaan die spesifieke rede daarvoor nie verklap word nie. (Gaan koop 'n kopie, toe.)

'n Kwessies wat Smith wel spesifiek wou aanspreek behels "die ras-ding. Ek wou dit sterk inbring.

"Dat jy nie tip-toe, soos baie boeke, om dit nie. Baie van die boeke gee voor als is hunky-dory. 'Almal kom oor die weg'. Hier is dit nie so nie. Hierdie ouens sukkel om met mekaar oor die weg te kom," sê hy in erns. 

'n Eksterne faktor wat 'n rol in hedendaagse rasseverhoudings in die polisiemag speel, is die van "bevordering, blah, blah, blah," laat Smith half-gegrief van hom hoor. 

"Baie van die swart polisiemanne voel blankes dink hulle doen nie hulle werk nie en kry net werk of bevordering omdat hulle swart is. Almal het half kak met mekaar.

"Mabathu like nie vir Majola nie," verduidelik Smith ten opsigte van sy karakters. "Davids hou nie van die een nie. Sammy kak net af die heeltyd," lag hy.

"Ek probeer nie te swartgallig wees nie," gaan hy in erns voort, met 'n frons op sy voorkop. "Ek probeer altwee kante te sien.

"Weer eens, ek wil nie soos hierdie white racist writer klink nie." Smith grynslag en beween skrywers wat "alles net afmaak as kak in die nuwe Suid-Afrika. Dis nie die geval nie. Ek probeer dit sien van alle kante af," herhaal hy.

Mzansi en haar mense

Smith stel die leser aan 'n mengelmoes karakters in die polisiemag bekend wat in 'n pre-1994 Suid-Afrika skaars sou wees: onder meer 'n vroulike swart speurder, 'n swart man wat 'n hoër pos beklee as sy wit kollega, en 'n eg-vannie-Kaap lieutenant. 

Ja, hy wou graag 'n vergelyk tref tussen die hedendaagse polisiemag vergeleke met dié van die 1980s.

"Daar's twee wêrelde - daar's die ou polisie en daar's die nuwe polisie.

"Baie van die ou polisie is stories wat ek gehoor het. Ek het 'n broer in die polisie gehad en al sy kollegas en almal het maar stories vertel."

Alles het nou gedraai, gaan hy voort, "na die anderkant toe, wat bevordering betref," verduidelik hy.

Die melkskommels daag op, Smith neem lustig 'n sluk en lig sy wenkbroue in verwondering.

"Hierdie is lekker, ou."

Smith gaan voort dat hy so "realisties as moontlik wou wees" ingevolge wat tans in die land gebeur en het wyd nuus gelees ter voorbereiding - van die Daily Maverick tot Netwerk24 tot die Sowetan. 

"Die uitdaging was om die wêreld te sien vanuit 'n swart polisieman se oë en ek's 'n wit skrywer."

Dinge waaroor Smith sal kla, sal Majola nie noodwendig oor kla nie.

"Daai was 'n uitdaging gewees, persoonlik," knik Smith stadig. "Daarom ook het ek hom Afrikaans laat grootword, hom in 'n blanke huis gesit ... bietjie van daai wêreld in vergelyking met die later township lewe."

Lag 'n slag

"Beide Basson en Majola," sê Smith sonder om te aarsel aangaande met watter karakters hy die meeste vereenselwig.

Smith skryf hierdie toe aan hulle humorsin wat baie ooreenstem met syne. (Wrang en donker, vir diegene wat wonder.) 

"Die ouens is omring met kak die heeltyd, mens moet maar bietjie humor gebruik om dit bietjie ligter te maak. Dis 'n tipiese menslike ding. As dinge kak gaan, gooi jy maar 'n bad joke tussenin."

Nee, kyk - mens moet om 'n sin vir humor beskik met die skryf van 'n roman van dié aard.

Smith vind besonderse aanklank by Quentin Tarantino se "aweregse sin vir humor", veral as iets "eintlik meer fucked-up as snaaks is, maar jy kan nie anders as om daarvoor te lag nie."

Nog 'n Pall Mall word uit sy boksie gevis soos Smith erken dat Majola die moeilikste karakter was om te skryf.

Alhoewel hy aanvanklik in 'n Afrikaanse huishouding grootgeword het, het Majola besluit om terug te keer na sy moedershuis in Alex. 

"Ek het gewonder of dit geloofwaardig sou wees," sê Smith van hierdie besluit wat deur Majola geneem is: om 'n gerieflike middelklas bestaan in Linden agter te laat vir 'n lewe in 'n township waar hy onder 'n tafel in die kombuis moet slaap.

'n Destydse kollega wat saam met Smith by die Daily Sun gewerk het, het 'n groot aandeel gehad tot die skep van Majola en Smith het hom gereeld vir raad gevra oor hoe Majola hoort uitgebeeld te word.

"Baie van hom is ge-base op Majola, hy's 'n baie cool ou. My grootse worry was dat Majola 'n swart karakter is en ek's 'n wit skrywer.

"Hoe ver kan jy dit vat voor dit belaglik word?

"Ek het probeer wegbly van stereotypes af en van prekery," beduie Smith met sy sigaret.

"Een deel waar hy praat oor white entitlement met Basson ... ek dink dis redelik geloofwaardig."

Daar was dele van die boek wat hy aanvanklik gesny het, waaronder tonele wat in Soweto afspeel en aandag vestig op armoede.

Iemand het hom laat weet dat "'n swart persoon dit nie noodwendig sal sien as wat ek dit sien nie.

"Dit moenie 'n donnerse politieke boek word op die ou einde nie," beklemtoon Smith.

"Hierdie is Johannesburg"

Smith leun terug in sy stoel en verduidelik dat hy "in die eerste plek nie nog 'n blanke speurder wou skep nie. Dit was 'n lekker uitdaging om 'n swart speurder te skep vir 'n verandering.

"Hierdie is realisties. Hierdie is nie die Kaap nie, hierdie is Johannesburg. Die meerderheid van die diens is in elk geval swartmense."

Vrees en weersin in foltering

Smith het nooit 'n mate van 'ek-moet-nou-ophou-skryf-aangesien-die-moordenaar-se-misdade-te-afgryslik-is' ervaar nie. 

Die storie het maklik na hom toe gekom, maar dit was nie noodwendig maklik om dit te skryf nie - veral die toneel wat "loshande die wreedste was", was "nie lekker om te skryf nie, dis sleg... Jy's half agitated terwyl jy dit doen," gryns Smith.

"My vrou het ook gesê 'hierdie boek moet nou maar net klaarkom, want jy's geïrriteerd'. 

"Jy's die heeltyd omring met hierdie bose kak-spul," gaan Smith voort. Die martel-tonele was besonders veeleisend, aangesien hy homself werklik in die psige van die slagoffers ingedink het. 

"Ek wou dit push van die begin af," verduidelik Smith met vasberandenheid. "Ek het besluit ek gaan nie terughou nie."

Tot dusver is die grootse kritiek wat hy ontvang het oor die wreedaardige martel-tonele.

"Meeste moan maar daaroor," lag hy.

Smith verkneukel hom byna toe daar kommentaar gelewer word op die afskuwelike wyses waarop die vrouens gemartel en vermoor word en die innerlike werkinge van sy kop bevraagteken word...

Hoe lagwekkend hierdie opmerking ook al mag wees, is die moordenaar se foltering die antitese van vermaaklik:

Die parrilla-metode (parrilla vertaal losweg as 'braai' in Spaans), waartydens die slagoffer aan 'n metaal-voorwerp vasgegordel word en geskok word, is die moordenaar se modus operandi. 

"Dit word fisies aan die vrou se klitoris gesit en daai klas van goed," verduidelik Smith. Hy brei uit dat hy ook op die internet opgelees het oor hoe mens met 'n stomp voorwerp verkrag word. "Alles is maar daar."

Iets vir ammal

Smith voer aan dat dit moeilik sal wees om weer iets so universeel as 'n taxi te kry, indien hy 'n opvolg skryf. 

"Iets wat die hele Suid-Afrika -"

Hy onderbreek homself, dink vir 'n ruk en gaan voort met "baie van jou Afrikaanse speurverhale is net 'n Afrikaanse, Afrikaner speurverhaal. Hierdie is die héle Suid-Afrika - die taxi-bedryf, swartmense en witmense en daai klas van goed."

Ongeag van hoe uniek jou benadering tot misdaadrillers is, bly daar ' n resepmatigheid, verduidelik Smith. 

"Daar is maar sekere goeters wat jy moet volg. Byvoorbeeld die deel waar daar verduidelik word hoe 'n docket lyk. Dit kom uit 'n Deon Meyer boek uit.

"Ek gaan nie eers lieg daaroor nie." 

Smith steek nog 'n sigaret aan, en gaan voort soos hy die rook stadig uitblaas.

"Hoekom moet ek nou gaan oplees op 'n polisie-webwerf oor hoe 'n docket lyk as ek dit net uit een van sy boeke kan vat?" laat hy eerlik van hom hoor. (Die man het 'n punt beet...)

Smith voeg by dat hy "nie karakters of plot-lines wou steel nie, daar's bloot net sekere goed wat dieselfde gaan bly".

Hy wou ook daarteen waak om Zola nie as 'n "gewone police procedural te skryf nie, dit word net als dieselfde: kil en koud."

Aangaande hoeveel lesers met die openbare vervoer tema sal kan vereenselwig, is iets waaroor Smith self wonder.

"Dis die ding..." begin hy ingedagte. "Dit hang maar af hoeveel swart lesers daar is wat in Engels lees ... Ek dink tog mense wat nie openbare vervoer ken nie het 'n nuwe blik gekry op hoe dit rêrig werk, wat vir my nogal belangrik is."

Smith neem 'n laaste sluk van sy melkskommel en voer aan dat sy persepsie van taxi's sedertdien verander het.

"In stede daarvan om net die taxi's te vloek in die verkeer, dink ek 'shit, die ou is al wakker van drie-uur af'."

En of Smith ooit al van 'n taxi gebruik gemaak het?

"Ja, toe ek op hoërskool was en ek die skoolbus gemis het," lag hy.

"Ou Jacques. Net bietjie klouerig."
"Ou Jacques. Net bietjie klouerig."
Image: Jacques Beau Geste Myburgh/Facebook

Ja, dit ís onse Jakkals!

Die bykans-bloedskendige aard van die bedryf waarin Smith homself bevind is tasbaar in sy verwysing na 'n mede-journo met wie se byline lesers van Suid-Afrika se grootste gesinstydskrif beslis vertroud sal wees.

Smith gee 'n roggelende rokers-lag soos hy erken dat ja, dit inderdaad ene Jacques Beau Geste Myburgh is wat so lekker tussen die lakens speel. 

"Ek weet nou nie of hy offended voel of bly is nie..."

Hy's bly, Johan.

Baie bly.


subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now