Dames en here: la vie en Nataniël

13 November 2019 - 14:02 By Mila de Villiers
Nataniël, uitgevat in swart.
Nataniël, uitgevat in swart.
Image: Verskaf

Eg, eerlik, spitsvondig, fassinerend, roerend.

Indien mens gevra sou word om Nataniël se memoir, Kyk na my in vyf woorde op te som sou dié byvoeglike naamwoorde gepas wees.

Van die swartskaap wees op drie plattelandse dorpies tot trek na 'n groot voorstad, neem hy die leser op 'n reis wat jou voorstel aan die wonder van Nik-Naks na power rugbywedstryde, familie-maaltyd na familie-maaltyd en sy ewige hunkering daarna om gesién te word. 

Kyk na my se subtitel lui 'Herinneringe aan 'n kindertyd'.

In sy kenmerkende hees stem wat Suid-Afrikaanse gehore vir jarre al vermaak en meevoer, beskryf die kaalkop kabaretster-cum-sjef-cum-kortverhaalskrywer sy kindertyd as "uitputtend, vreesaanjaend, fantasties, baie, baie kos en een mooi maatjie."

Neem gerus kennis van die enkelvoud...

Menigte bladsye in Kyk na my word afgestaan aan die bewondering wat Nataniël vir sy ouma het, as ook die betowering wat ouer mense as geheel vir hom ingehou het. 

Sy portuurgroep moes maar tweede viool speel.

"Hulle het by my kom speel, maar dit was erger as skool," sê hy lankmoedig oor die middae waartydens hy die bure se seuns moes vermaak.

Waar hulle plase en paaie wou bou, het hy bruide en bruilofte geskep.

Soos hy dit stel: "Ander bak plase, ek maak 'n wedding."

Hy beklemtoon dat hy nie noodwendig slimmer was as sy jong eweknieë nie, "maar ek was meer intellectual, in 'n weird way, as my maatjies.

"Ek was tussen die grootmense, want kinders het my verveel. Vandag nog ... ek kommunikeer nie maklik met kinders of hondjies nie. Ek was ge-fascinate deur old people en older people."

Die wysheid, tekort aan vrees, en die welverdiende embleem om torrerig te wees wat saam met ouderdom gepaardgaan het hy besonders aanloklik gevind.

"Die ouer mense - soos my art teacher en my ouma - they travelled the world. There were things in their houses that other houses did not have. They had embroidered shoes, 'n shawl gehad met vlamme op en 'n peacock in die hoek van die eetkamer," vertel hy in verwondering.

Kinders het my verveel. 

"Mense wat ouer is, is meer fascinating. Hulle dra die wêreld saam met hulle."

Hulle wêreld-wysheid opsy, het hy ook die "ander manier" waarop hulle kinders beskou waardeer.

Hetsy dit was om vir ure lank te giggel oor iets wat hy gedoen het wat sy ma laat skaamkry het ("jy entertain hulle, en hulle entertain jou in return"), of hul min gespin houding teenoor gewig en gesondheid.

"My tannie het altyd gesê 'jy's so dik, eet nog 'n worsie. Ons is lief vir jou'. Hulle het jou regardlessly ge-feed," laat die bo-baas kok van hom hoor.

Van koekies ("ouer mense het altyd koekies, al is dit poor koekies soos Tennis of Marie-biscuits") tot 'n tafel wat altyd gedek is met poedingbakkies ("al is dit een koejawel met 'n lepel vla, mens skip nie poeding nie"), is Nataniël se voorliefde vir kos deur die ouer mense in sy lewe gekweek en gekoester.

"Hulle het jou geleer: jy gaan nie jou laaste dag hê sonder dessert nie," sê hy met liggende wenkbroue.

"Dit het my excite. Ek was verveeld met -"

Hy onderbreek homself; 'n peinsende uitdrukking op sy Sneeuwitjie-wit gesig. 

"Dit klink verkeerd, but I was always bored with youth," gaan hy voort. "Ek was die enigste kind wat op hoërskool ge-fantasise het oor my retirement en hoe my huis dan gaan lyk. En wat ek gaan dra," voeg hy as 'n nagedagte by. 

Deesdae is hy daagliks geklee in swart van kop tot toon; destyds het hy gedroom van kleurryke kostuums.  

Sport was nie juis Nataniël se forte nie, tog was hy baie aangetrokke tot judo. Mens dra immers 'n kostuum van soorte en hy skryf met ongebreidelde entoesiasme oor hoe hy sy judo-uitrusting wou opdollie. 

Tot sy spyt moes mens se pakkie spierwit bly en die kleur van mens se belt verander slegs wanneer jy 'n nuwe rang beklee.

"Al wat exciting was van die judo-ding was almal se hempies het die heeltyd oopgegaan. Ek was omring van nippels! So dit het my excite. Maar die lack of drama was shocking en ek wou 'n ander kleur belt gehad het. Ek het nie geweet you have to earn your belt nie. Verstaan?" sê-vra hy.

"Ek het net by die brown belt gebly. Ek het nooit verstaan dat ons moet fight nie," laat hy ietwat mismoedig van hom hoor.

"Lê jy nou bietjie op my, dan lê ek so bietjie op jou dat ons net besig lyk," was sy benadering tot dié Oosterse gevegkuns. 

(Sy tokui waza was ongetwyfeld 'tepels ontbloot'!)

Die behoud van sekere Afrikaanse woorde in die Engelse vertaling was 'n aangename verrassing: onder meer 'boskasie' en sy eksentrieke buurvrouens wie hy 'die Vuurhoutjies' gedoop het verskyn ongeskend in Look at me.

Hy knik gretig en ploeg voort met die verbysterende besef van die oormatige aantal woorde wat in Engels gebruik word vir 'n eenvoudige woord in Afrikaans.

Hy en sy vertaler was dit eens om te probeer voorkom om 'South African-ness' af te dwing.

"You use the Queen's English and then you throw in Herman Charles Bosman-woorde. I don't want to be that," sê hy met vasbeslote afkeuring. 

Om hierdie geneigdheid te vermy, het hy besluit om nie te peuter met Afrikaanse woorde met meer gravitas as dié van hul Ingilse vertalings nie. 

"'Boskasie' is vir my 'n explosive woord. Daar is nie 'n woord vir my in Engels daarvoor nie."

Die vertaling van 'ouma' het ook in 'n "HUGE fight" ontaard".

Almal moet die boek kan lees. 

"My ouma was vir my 'Ouma' en 'Ouma' is 'Grandmother' in Engels. She's never 'granny' or 'gran' - ever. She's a queen."

In sy 30 jaar van kortverhale skryf, het hy nog altyd verwys na 'mother', 'father', 'grandmother', 'grandfather'.

"Ek het never ge-'gran' en ge-'granny' nie."

Hy voeg by dat mens bietjie met die reëls mag speel indien dit by Engels kom. 

"Ek care very little for rules," laat hoor hy. "Ek wil nie 'n literary award hê nie, want dit stop boek sales. There's nothing that kills book sales like being called 'literature'."

'Kyk na my' - 'n boek vir ieder en elk.
'Kyk na my' - 'n boek vir ieder en elk.
Image: NB-Uitgewers

Een van sy grootste vrese met die skryf van Kyk na my was dat dit moontlik ontoeganklik sou wees vir 'n wye leserskring. 

Sy belangrikste voorvereiste vir 'n boek is dat dit alom as lekker leesstof beskou moet word, hetsy jy dit in Londen, Parys, Berlyn of Porterville kafdraf. 

Die afwesigheid van vloekwoorde is merkbaar en, vertel Nataniël, met opset.

"Almal moet die boek kan lees. Ek wil nie hê 'n tannie moet dit mis because I offended her with something."

Swets het boonop nog nie 'n rol in sy lewe gespeel tydens sy laerskooljare nie en "my ma en pa het tot vandag toe nie 'n swearword gebruik nie".

Sy pa was 'n werktuigkundige, sy ma 'n huisvrou en hy is so Afrikaans as 'n kerkbasaar-pannekoek grootgemaak.

Alhoewel hy in 'n eg Afrikaanse huishouding grootgeword het, het hy verbasend genoeg nooit Afrikaanse musiek gehoor nie. 

"As dit speel, het my ma gesê 'ag, nee'. Dan sit sy die radio af."

In teenstelling met haar seun, het Nataniël se ma nie oor 'n kennis van musiek beskik nie; volgens hom was dit was instinkmatig.

"Ek het grootgeword op crooners. Judy Garland, Frank Sinatra, Gene Kelly, al daai mense. Not jazz, but smooth swing. Dit was die musiek in ons huis. En classical musiek. Sang in 'n Germaanse taal is nie vir my mooi nie. In Afrikaans, as jy in 'n mic sing, is dít wat ek hoor." (Hy boots 'n klank na wat soos "gfswgfswgfswg" klink...)

Hy skryf oor hoe sy ouers hom Volkspele toe gevat het, Republiekfees toe gevat het, "na alles toe gevat het.

"Ek is so Afrikaans, ek was op die koerant se voorblad gewees waar ek vasgehou word deur CR Swart."

Hiérdie, ahem, eer word daaraan toegeskryf dat hy die eerste baba was wat gebore is in die kraamsaal van die Settler's Hospitaal op Grahamstad. 

Hy het ook bloot per toeval in 'n foto saam met ene HF Verwoerd wat visvang verskyn. Die Verwoerds se vakansiehuis was naby aan die Le Roux's s'n geleë; "ek was net so hoog," beduie hy met sy hand 'n paar meter bo die vloer.

Hy verskyn óók in 'n kiekie saam met FW de Klerk wat tydens die referendum geneem is.

"Ek is net ge-photograph with all the wrong people," sug hy. "In die sense van ek is politically unbelievably incorrect. Ek het geen benul gehad wie's hierdie mense nie."

Op bladsy een van Kyk na my, neem Nataniël die leser terug na sy eerste herinnering. Hy sit in 'n sandbak. Sy voetjies is netjies voor hom uitgestrek. Die reuk van katpoefie hang in die lug.

Sy verhouding met sand het sedertdien noemenswaardig verander: hy kom slegs in kontak daarmee wanneer daar aangebou word en verafsku boonop die oseaan. 

"My sielkundige sê dit declare jou gebrek aan seks ook as jy nie naby die see kom nie. I don't do water. Ek het agorafobia - aqua-fobie."

As hy bad is dit "soveel water" - hy lig die spasie tussen sy duim en wysvinger - en "soveel skuim" - en hy lig sy arm 'n hele paar sentimeter bo die tafel.

Hy heg onplesierige herinneringe aan swemlesse as kind - "die laaste keer is ek uitgeduik. Ek het net gesink. I don't do water," herhaal die hidrofoob.

Die strand as geheel beskik wel om sy eie sjarme, voeg hy by.

Hy het as kind "onmiddellik die strand theatrical gemaak". Hierdie het die bou van kastele en kunswerke behels. "Poppe, scenery, alles," sê hy met oorgawe. 

"Ek het nooit my toon in die water gesit nie. Dit was net awkward."

Hy galbraak dalk iets verskriklik oor die strand, maar hou vol dat hy niks in die wêreld werklik háát nie.

Hy wikkel bietjie in sy stoel rond en sit kiertsregop soos hy pragmaties verduidelik dat daar "twee goedjies is wat ek dislike: die een is comfort en ander een is informal."

Mens het gerieflike skoene nodig om by die strand uit te kom, en moet boonop informeel geklee wees, ril hy. "I don't do it."

Ek weet nog nie of ek op 'n punt is om oor my demons te skryf nie.

Nataniël wy 'n paragraaf in Kyk na my toe aan die 'boek of lied wat hy wou, maar nooit sou skryf nie' oor die "ongemaklike lewe".

Die moontlikheid van hierdie spesifieke relaas skryf lyk skraal...

Hy bieg prontuit dat hy onseker voel oor hoeveel skade 'n boek oor sy persoonlike worstelinge aan sy loopbaan sal rig en noem spesifiek sy getroue Sarie-lesers. 

(Terloops, hy verkies "audience" bo "following": "it's so presumptuous").

Hy voer verder aan dat hy hom tans in 'n tweestryd bevind tussen die liefde en waardering wat hy aan sy gehoor heg en die apatie wat hy teenoor Suid-Afrika voel.

"I'm completely out of love with this country at the moment," erken hy.

Dié sienswyse word toegeskryf aan die land se misdaadsyfers, die regering ("politics is an organised form of evil"), en kindermishandeling-statistieke. 

Nataniël is betrokke by menigte kinderwelsyn-organisasies en werk gereeld saam met mishandelde kinders. "Ek verloor elke dag vertroue in die human race," sê hy swaarmoedig.

Hy werk sy sin van Weltschmerz teen deur waarde in die alledaagse te sit. 

"I glamorise everyday life because, to me, that's the most glamorous thing." 

Sy voorliefde om iets gewoon in iets opwindend te omskep skryf hy aan sy ouma toe.

"Unusual presentations of ordinary things is what excites and surprises people. Dis wat ek wil doen," knik hy beslissend.

"Ek probeer nog steeds sê daar's miracles in everyday life. Ek het elke dag 'n highlight."

Hierdie hoogtepunte verwys nie na luukshede soos 'n strandhuis (ons weet mos reeds wat sy verhouding met sand is) of duur dwelms nie. ("Ek doen nie cocaine nie because I'm already like I am.")

Bloot om 'n nuwe dis te skep, 'n byderwetse paar skoene te dra of sy ontbyt op 'n flambojante wyse voor te sit, is iets waaraan hy baie waarde heg.

"Everybody is entitled to demons and to problems and to struggling with them. Ek weet nie of ek oor myne wil skryf nie. Ek's nog nie op 'n punt waar ek daaroor wil skryf nie," mymer hy.

Ek sing 'n ballad en, next thing, is dit 'n g-string en fishnets.

En dit waaroor hy wel wil skryf?

"Strangeness," kom die versekerde antwoord; toe hy pas met sy beroep begin het.

Ja-nee, kyk: alledaags is die antitese van sy formatiewe jare as kunstenaar. 

"Ek was die hele tyd naked," val hy weg. 

Sy neiging om gereeld in sy Adamsgewaad te verskyn skryf hy toe aan sy vyf maer-jare (so te sê). Hy "kon nie glo" dat hy 'n plat maag gehad het nie en wou die dus te alle tye ten toon stel. 

"Ek sing 'n ballad en, next thing, g-string and fishnets," sê hy met 'n vonkel in sy marineblou-oë

Sy #GeenSkaam optredes was nie te alle tye verwelkom nie.

"Dit was op die platteland. People shot at me," verklaar hy met 'n strak gesig. 

Hy moes selfs een maal 'n konsert wat in 'n Nelspruit-winkelsentrum sou plaasvind prysgee aangesien hy 'n bomdreigement ontvang het.  

"Ek sal daaroor skryf, in hindsight is dit really funny...

"Very dangerous," voeg hy vinnig by, "maar ek het dit nie geweet nie. Ek het gedog almal se careers is so," sê hy met 'n nonchalant skouerophaling. 

Sy destydse onkunde oor die bedryf skryf hy toe aan sy tekort aan vriende in die vermaaklikheidsbedryf, die afwesigheid van 'n platemaatskappy en die gebrek aan 'n agent.

"Niemand wou my sign nie. Hulle kom nou, maar nou's dit te laat," skerts hy.

Die dreigemente en onvleiende kritiek wat sy opvoerings ontlok het, het hom nie skrik op die lyf gejaag nie.

"In hindsight was dit life-threatening," voeg hy ter nagedagtenis by, maar ook "very comical. En ek sal dít eendag skryf."

'n Hele rubriek was destyds in die Argus aan een van sy konserte toegewy. Hy haal die volgende opmerking droogweg aan: "For this show, you need talent and guts. Nataniël has guts."

Sy pa het hom aanvanklik ontmoedig om sy loopbaan voort te sit, maar was nietemin gaande oor die eerste opvoering wat hy bygewoon het. (Waarom weet Nataniël tot vandag toe nie.)

Die Burger was minder bekoor met sy opvoering en Louis Heyneman het 'n striemende resensie daaroor geskryf. Mnr le Roux snr het nie goedgunstiglik hierop reageer nie.

"My pa het vir Louis Heyneman in die parkeerterrein gewag," vertel Nataniël. "Hy wou hom bliksem." Dié sou vir Herr Heyneman 'n lelike hou of wat kon gee, aangesien hy 'n bokser was.

"Dit was weird hoe my pa my kant gevat het. Ek sê net 'I don't care, I got paid'," laat hy traak-my-nieagtig hoor.

Die dekades van naaktheid, bomdreigemente en noue ontkomings van vuurwapens is vandag 'n ding van die verlede. 

"Die grootse keerpunt in my lewe was 20 jaar terug toe ek begin skryf het vir Sarie."

Hierdie keerpunt is te wyte aan die bekendmaking van die "baie normale lewe" wat hy lei.

"Hy het dieselfde values, hy't godchildren, hy bak verjaardagkoeke," verduidelik hy van die vereenselwiging wat hy tussen hom en sy lesers geskep het.

"Mense dink daar's 'n kaal mens met 'n whip in my huis." (Toe nou nie.)

Van jongs af is hy al 'n adellike op die verhoog.
Van jongs af is hy al 'n adellike op die verhoog.
Image: Verskaf

Kaal mense en swepe ter syde, was hy van kleins af aangetrokke tot die dramatiese. 

Bloot iets so onopspraakwekkend as 'n kunsmatige baard wat hy tydens 'n skoolkonsert (in sy rol as Koning Rosekrans) moes dra was 'n noemenswaardige ervaring.

Indien hy vrye teuels gehad het, sou hy dié opvoering 'n Transylvania-esque spin gegee het, laat Nataniël Die Volwassene van hom hoor.

"Dit sou die Rocky Horror Picture Show gewees het. Dit het niks te doen met sexuality of gender nie, dit het te doen met die costume," verduidelik hy.

"Die queen se costume is cheap, pienk satin en my costume is my kamerjas. Ek sou ietsie anders gedoen het."

Tog voer hy aan dat hy "net só bly was" om daar te kon wees. "Daai hele experience..." dwaal hy in 'n hersenskim af.

"Gom! Glitter! Lipstick! Lip liner!" roep hy uit.

"I even had a fake beard, but it was something," voeg hy bietjie meer gedweë by.

Van sing in die kerk tot orrel speel tot debat ("ek het dit gehaat") tot die Bybel memoriseer vir 'n toekenning: hy het alles - en nog wat - gedoen in 'n poging om raakgesien te word.

Hierdie musikale en teatrale wunderkind het wel een ding nog nie baasgeraak nie: beweeg.

"Ek kan nie choreography doen of onthou nie."

En indien hy wel danspassies aandurf "lyk ek soos 'n vetkoek wat nog nie gebak is nie.

"I don't move well, I don't even walk well," seg hy met 'n teatrale oogrol.

"That's why I stand like Piaf."

Dames en here: la vie en Nataniël.


X