Penguin Random House SA verkry LAPA Uitgewers

20 February 2020 - 11:14 By penguin random house sa
subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now

Penguin Random House Suid-Afrika, ’n afdeling van Penguin Random House en die grootste Engelstalige uitgewer in Suid-Afrika, het Woensdag aangekondig hy het LAPA Uitgewers, die land se grootste Afrikaanstalige uitgewer, by die ATKV gekoop. LAPA word deel van Penguin Random House Suid-Afrika, maar behou sy naam, identiteit, leierskap, sakestrategie, en personeel. Die verkryging stel Penguin Random House Suid-Afrika in staat om sy plaaslike markaandeel te verhoog, sy posisie te verstewig en die reikwydte en diversiteit van sy publikasielys en titels te versterk. Die terme en voorwaardes van die ooreenkoms is nie bekendgemaak nie. Die transaksie sal einde Februarie 2020 finaal beklink word onderhewig aan die nakoming van alle vereistes.

Steve Connolly, Uitvoerende Hoof van Penguin Random House Suid-Afrika, en Sonél Brits (Besturende Direkteur ATKV-MSW), het die verkryging gesamentlik aangekondig.

Penguin Random House Suid-Afrika en LAPA gee beide oorspronklike fiksie en nie-fiksie in hardeband, sagteband en digitale formate vir volwassenes en kinders uit. LAPA se drukname sal dié van Penguin Random House Suid-Afrika aanvul. LAPA gee jaarliks net so oor die 200 titels uit en die nuwe, saamgesmelte onderneming verwag om jaarliks meer as 350 gedrukte boeke uit te gee.

Penguin Random House Suid-Afrika se bekroonde en topverkoper-outeurs sluit internasionale name in soos Michelle Obama, Yuval Noah Harari, James Patterson, Roald Dahl, Malcolm Gladwell, Margaret Atwood, Jamie Oliver en JoJo Moyes.

Aan die plaaslike front spog die uitgewershuis met skrywers soos Pieter-Louis Myburgh, Lauren Beukes, Fred Khumalo, Tembeka Ngcukaitobi, Marguerite Poland, Max du Preez en Sally Andrew. Dié plaaslike aanbod word nou verbreed en verryk met gesogte LAPA-skrywers soos Marita van der Vyver, Sophia Kapp, Irma Joubert, Chanette Paul, Fanie Viljoen, Jaco Jacobs, Wendy Maartens, James-Brent Styan, Riana Scheepers en Armand Aucamp.

Connolly sê: “Ons is baie opgewonde om met die span by LAPA saam te werk. Hulle spog met puik publikasielyste, ’n uitstekende groeikoers en ’n sterk teenwoordigheid in die Afrikaanse markte vir fiksie en kinder-en-jeug. Hulle het ons lankal beïndruk met hul talent, professionaliteit en ambisie, en ek glo ons twee onderskeie ondernemings sal baie by mekaar leer. Ek sien uit na die opwinding van gedeelde idees en ’n begeesterde energie in die saamgesmelte besigheid. Saam sal ons aanhou groei en voortgaan om die hoogste gehalte in die uitgewersbedryf na te streef. Die ondernemings sal hul onderskeie fokus behou en sal aanhou sake doen soos altyd, met die nuwe moontlikheid om sommige stelsels met mekaar te integreer. LAPA se bestuurspan is bekend vir sy indrukwekkende vermoë om te groei en ons is van plan om hulle te help om nog groter hoogtes te bereik.”

Brits sê die ATKV beskou die stap as ’n gulde geleentheid om Afrikaanse skrywers en Afrikaanse skryfwerk te bevorder. “Dit gaan Afrikaanse skrywers se voetspoor aansienlik vergroot en hulle die geleentheid bied om internasionaal vastrap plek te kry. Ons vertrou LAPA Uitgewers sal onder Penguin Random House Suid-Afrika se indrukwekkende vaandel net groter hoogtes bereik.”

Sylvia de Wet, Uitvoerende Hoof van LAPA, sê: “Hierdie verwikkeling hou enorme belofte vir LAPA en ons skrywers in. Ons is verheug om by Penguin Random House Suid-Afrika aan te sluit en deel te word van hul houermaatskappy, die internasionale uitgewersreus Penguin Random House. Deur dié internasionale kolos sal ons toegang tot waardevolle platforms en hulpbronne verkry terwyl ons LAPA se korporatiewe naam en identiteit as die grootste Afrikaanse uitgewer en markleier behou. LAPA se sakekern en redaksionele integriteit bly onaangeraak terwyl ons deel word van ’n handelsmerk wat wêreldwyd aansien geniet vir sy ongeëwenaarde kultuur, kommersiële sukses en steun aan outeurs. Ons sien uit na ’n geweldig belowende toekoms saam!”

Penguin Random House Suid-Afrika is in 2016, 2017 en 2019 as handelsuitgewer van die jaar aangewys en wen al die afgelope ses jaar elke jaar die Sunday Times se gesogte fiksieprys.

Penguin Random House is die wêreld se grootste handelsuitgewer, met Engelstalige ondernemings wat die markleiers is in onderskeidelik die VSA, Brittanje, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Indië. Penguin Random House gee ook boeke in Spaans uit deur Penguin Random House Grupo in Spanje, Meksiko, Argentinië, Uruguay, Kolombië, en Chili; in Duits deur Verlagsgruppe Random House in Duitsland; in Portguees deur Companhia da Letras in Brasilië; in Katalaans in Spanje; in Hindi in Indië; en in Afrikaans in Suid-Afrika.


subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now