Woordfees 2020: opgedateerde Skrywersfees-program aangekondig

04 March 2020 - 13:57
subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now
Die Toyota US Woordfees vind vanjaar van 6-15 Maart plaas.
Die Toyota US Woordfees vind vanjaar van 6-15 Maart plaas.
Image: Verskaf

Die program vir vanjaar se Toyota US Woordfees Skrywersfees is bekendgestel!

Ja, Woordfees is om die draai en die bolandse dorpie van Stellenbosch gaan vanaf Vrydag 6 Maart tot Sondag 15 Maart met kultuurdiere wemel.

Leesgierige feesgangers kan uitsien na gesprekke oor onderwerpe wat wissel van poësie tot politiek; misdaadfiksie tot smeerpoetse; die Sestigers tot slypskole; en veel meer.

Loer gerus hier vir 'n voorsmakie ...

Vrydag 6 Maart 

Eendag-skryfkursus
Slypskool
Met Ingrid Winterbach, Kerneels Breytenbach en Frederik de Jager
Aangebied deur The Talking Table
Frederik de Jager en Douw Steyn se Winnie Rust-skryfskool, wat in Februarie oor ’n paar dae op Stilbaai in die skrywer se familie-strandhuis gehou word, is ná drie jaar al ’n instelling. Nou kom twee van die leermeesters, Ingrid Winterbach en Kerneels Breytenbach, en Frederik bymekaar om deur die loop van een dag ’n klein groepie voornemende skrywers deur middel van wyse raad en praktiese oefeninge in fiksie skryf ’n paar basiese beginsels te leer.
6 Maart 8.30vm vir 9vm | Middagete, koffie en tee ingesluit
7 ure | Lanzerac
R850 middagete ingesluit

Versfort
Gedigvoorlesings
Met o.a. gepubliseerde digters, Penseel se studentedigters, en Wellington se Mengelmoes-digters as voorlesers
Onthou jy nog jou kinderfort met lakens, komberse, kussings of ’n slaapsak? Met ’n kopknik na Breyten Breytenbach wat 60 jaar gelede as een van die Sestigers Afrikaanse digkuns op sy kop gekeer het, kan jy nou in so ’n nuut verbeelde, Marokkaans-styl “versfort” gaan sit om nie net na gedigvoorlesings te luister nie, maar ook van jou eie gedigte voor te lees as jy ’n middernagtelike skriba is – en selfs afskrifte van jou gedigte in die “fort” te los vir ander om te lees. Jy’s ook welkom om ’n gedig van jou eie keuse saam te bring, of ’n bundel waaruit jy graag iets voorgelees wil hoor. Kom ontspan met die skoonheid van woorde al om jou in ’n klein, intieme ruimte. En as niemand voorlees nie, kan jy in stilte sit en lees uit die bundels in die “fort”.
6, 7, 12, 13 Maart 9vm - 12nm, 2nm - 4nm
45 min | Tussen Boektent en Boek-Oase
Gratis

Willie Esterhuyse: Oorlog en vrede
Niefiksie
In gesprek met Moeletsi Mbeki
Aangebied deur Naledi
Hoe maak ’n mens ’n vriend van jou vyand? In sy jongste boek, Oorlog en vrede, ondersoek Willie Esterhuyse die eeue oue strydvraag of die mens (veral mans!) van nature magsugtig en gewelddadig is, en of dit aangeleerde gedrag is. En as die mens van nature gewelddadig is, hoe is dit moontlik om vrede tussen vyande te bewerkstellig? Hy argumenteer die mens het ’n morele verbeelding wat hom die droom van vrede laat bevorder.
6 Maart 11vm
60 min | Boektent
R65 | R85 by die deur
Taal: Engels en Afrikaans

Jan Rabie: ‘21’ sluit die deure oop
Sestig ná ‘60’ 
Met Andries Visagie, Steward van Wyk en MC Botha
Aangebied deur die US Dokumentesentrum
Andries Visagie, Steward van Wyk en MC Botha gesels oor die werk en lewe van ons eie Sestiger-“strandloper”, Jan Rabie, wie se baanbrekersversameling kortverhale, 21, in 1956 die sleutel was wat die grensverskuiwende Sestigers-beweging in Afrikaans sou oopsluit. Jan en sy Skotse kunstenaarsvrou, Marjorie Wallace, se huis op Onrus was ’n tweede tuiste vir baie skrywers, soos Uys Krige, Breyten Breytenbach en André P. Brink. Na die gesprek kan gaste die omvattende versameling van Jan se manuskripte, aantekeningboeke, briewe, foto’s en persoonlike dagboeke bekyk.
6 Maart 12nm
60 min gesprek | JS Gericke-ouditorium
R65 | R85 by die deur

Wreed én mooi is die dood
Essays
Met Tobie Wiese as gesprekleier
Aangebied deur Jonathan Ball Publishers
Met sy versameling stories oor die belewenis van die dood, het Wreed én mooi is die dood mense aangegryp. Die samesteller Tobie Wiese gesels met Karin Brynard, wie se man, Rien, ná siekte oorlede is, dr. Almero Oosthuizen, ’n spesialis in noodmedisyne, en Wilhelmina Prins, ’n pleegmoeder oor baie jare, oor trauma as deel van die doodsbelewenis – hetsy deur ’n geliefde se langdurige lyding of geweld.
6 Maart 12.30nm
60 min | Boektent
R65 | R85 by die deur

Leopold Scholtz: Cuito ‘gedeklassifiseer’
Geskiedenis
Leopold Scholtz, in gesprek met Abel Esterhuyse en Roland de Vries
Aangebied deur Jonathan Ball Publishers
Die bloedige gevegte om die klein Angolese dorpie Cuito Cuanavale in 1987/’88 is steeds omstrede omdat albei kante vas glo hulle het die groter geveg gewen. In Die SAW en Cuito Cuanavale: ’n Taktiese en strategiese analise ondersoek Leopold die ware strategiese en taktiese doelwitte van die SAW op grond van onlangs gedeklassifiseerde inligting, en bespreek sy bevindings met Abel Esterhuyse en oud-genl. Roland de Vries.
6 Maart 2nm
60 min | Boektent
R65 | R85 by die deur

NUUT

Het jy geweet ek kan toor – Jeanne Goosen eksklusief

Gedigte
Met Rachelle Greeff, Marianne Vorster-Meyer e.a. as voorlesers
Aangebied deur Hemel & See Boeke
Die opspraakwekkende nuwe bundel wat meer as 100 voorheen ongepubliseerde gedigte van Jeanne Goosen bevat, is vuurwarm op die rak. Die gedigte is deur die uitgewer en redakteur Petrovna Metelerkamp tussen Jeanne se dokumente ontdek toe sy navorsing gedoen het vir haar biografie oor Jeanne, Jeanne Goosen – ’n Lewe vol sinne, wat óók op die Skrywersfees bekendgestel word. Dis die eerste keer in 13 jaar dat gedigte van die Ons is nie almal so nie-skrywer verskyn. Rachelle Greeff en Marianne Vorster-Meyer is van die voorlesers uit Het jy geweet ek kan toor.
6 Maart 3.30nm
60 min | Boektent
R65 | R85 by die deur
Taal: Afrikaans

Muckrakers or Watchdogs
In die nuus
Jacques Pauw gesels met Pieter-Louis Myburgh, Pauli van Wyk en Foeta Krige
Aangebied deur Penguin Random House
Jacques Pauw praat met drie bekende joernaliste, die bekroonde Pieter-Louis Myburgh (Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture), amaBhungane se Pauli van Wyk en Foeta Krige (The SABC8), oor hoe hulle korrupte politici en sakemanne al ontmasker en die kollig laat skyn het op grootskaalse ongerymdhede – maar teen watter prys? En hoe volhoubaar is dié veeleisende en boweal dúúr werk, en wat gebeur ná hul opspraakwekkende onthullings?
6 Maart 5nm
60 min | Boektent
R65 | R85 by die deur
Taal: Afrikaans en Engels

Klik hier vir die volledige program. 

Artikel verskaf deur die Toyota US Woordfees 


subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now