In memoriam: Elsa Joubert (Oktober 19 1922 – Junie 14 2020)

15 June 2020 - 12:16
Elsa Joubert. Dié geliefde en bekroonde skrywer is op 14 Junie 2020 oorlede.
Elsa Joubert. Dié geliefde en bekroonde skrywer is op 14 Junie 2020 oorlede.
Image: Verskaf

Tafelberg en NB-Uitgewers verneem met groot hartseer en leedwese van die afsterwe van geliefde skrywer Elsa Joubert (97).

Eloise Wessels (Uitvoerende Hoof van NB-Uitgewers): "Elsa Joubert was ’n pionier, sy was haar tyd vooruit. Sy het haar politieke boodskap suksesvol aan haar eie mense oorgedra – iets wat ander Afrikaanse skrywers ontwyk het. Afgesien van die kulturele en politieke dimensies van haar oeuvre is haar werk altyd gekenmerk deur ’n kragtige menslike element; in haar eie woorde: Die verste reis is van mens tot mens, deur die hart."

Etienne Bloemhof (Uitgewer): "In die ruk wat ek die voorreg gehad het om, saam met Solette Swanepoel van Tafelberg, die publikasie van Spertyd mee te maak, het ek diep onder die indruk gekom van Elsa se ruimheid van gees, haar verbysterende intellek en, ja, haar groot nederigheid. In verstommende detail kon sy die een oomblik praat oor gebeure van 80, 90 jaar gelede, en dan weer weer oor aktuele sake van die dag . . . Die gawe van breëd én stip kyk, dit was hare. Om werklik aan haar nalatenskap reg te laat geskied, daarvoor ontbreek die woorde helaas."

Elsa Joubert

Elsa Antoinette Murray Joubert is op 19 Oktober 1922 in die Paarl gebore as afstammeling van die Franse Hugenote. Haar pa, WA Joubert, was skoolhoof van die destydse Onderwyskollege in die Paarl. Sy bring haar skoolloopbaan deur aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die paarl waar sy in 1939 matrikuleer.

Elsa behaal haar BA-graad en SOD aan die Universiteit van Stellenbosch en was vir ’n jaar onderwyseres aan die Hoër Meisieskool op Cradock voordat sy terugkeer na Kaapstad en in 1945 haar MA-graad aan die Universiteit van Kaapstad behaal. Dit is hier waar sy vir Klaas Steytler, haar toekomstige man, ontmoet.

Sy begewe haar op die joernalistieke terrein en is van 1946 tot 1948 vroueredakteur by Huisgenoot. Maar toe pak die reisgogga haar en in 1948 reis sy vrou-alleen deur Afrika tot by die Nyl – iets wat in daardie dae amper ongehoord was. In 1957 word haar eerste reisverhaal Water en woestyn gepubliseer wat vertel van haar reis in Uganda en Egipte. In 1949 reis sy en Klaas met rugsakke deur Europa en bly Elsa vir amper twee jaar daar terwyl sy vir die Verenigde Volke in Genève en die Suid-Afrikaanse Ambassade in Lissabon werk. Gedurende hierdie tyd voer Elsa ’n onderhoud met die burgemeesteres van die verwoeste Berlyn en saai die BBC dit uit. Hiermee verdien sy ’n stewige £25.

Elsa en Klaas, ook ’n skrywer, is in 1950 getroud en twee dogters en ’n seun is gebore. Hulle vestig hulle uiteindelik in Kaapstad waar Klaas in 1998 oorlede is. Elsa woon nog altyd in Kaapstad.

Elsa begin haar skryfloopbaan met die skryf van reisverhale, veral oor Afrika, en sy word beskou as ’n uitsonderlike eksponent van die reisverhaal in Afrikaans. In 2002 bel oudpresident Nelson Mandela vir Elsa met verjaardagwense en vertel haar dat Die staf van Monomotapa vir hom ’n baken was, want dit was die eerste keer dat hy kennis geneem het van ’n Afrikaner “wat die moontlikheid in die oë staar van ’n gedeelde swart-wit regering in Suid-Afrika”.

Ook in Elsa se romans is Afrika dié groot inspirasie en baie van haar romans weerspieël die konfliksituasies wat so eie aan Afrika is. Haar eerste roman, Ons wag op die kaptein is in 1963 gepubliseer en daarmee ontvang sy haar eerste letterkundige prys, naamlik die Eugène Marais-prys in 1964.

In 1978 verskyn die boek wat Elsa internasionaal bekend gemaak het, Die swerfjare van Poppie Nongena. Die verhaal is persoonlik aan Elsa oorvertel en het ’n geweldige impak op die Suid-Afrikaanse gemeenskap gehad. Dit word bekroon met die CNA-prys in 1978 en die WA Hofmeyr- en Louis Luyt-prys in 1979. In 1980 ontvang sy die Winifred Holtby-prys van die British Royal Society of Literature vir die beste streekroman in Engels vir die vertaling van Poppie in Engels, The long journey of Poppie Nongena. Sy word ook verkies tot ’n genoot van die Royal Society of Literature. Elsa het die helfte van die outeursaandeel uit die verkope van Poppie aan die vrou by wie sy die storie gehoor het, gegee en daarmee het sy vir haar ’n huis in die Transkei gekoop en vir haar twee kinders ’n opvoeding gegee. In 2005 word Elsa deur die Departement van Kuns en Kultuur vereer deurdat Poppie aangewys word as die beste prosawerk in Afrikaans. Dit haal ook die lys van die beste 100 boeke van die vorige eeu in Afrika en is in veertien tale vertaal.

Elsa het buiten al die pryse vir Poppie die Eugène Marais-prys twee maal gewen, die WA Hofmeyr-prys drie maal en die Hertzogprys twee maal. In 1996 ontvang sy die KKNK Afrikaans Onbeperk-toekenning, 2004 Orde van Ikhamangs (silwer), Patrick Petersen-prys van die ASV in 2001, die ATKV-Prestige-toekenning in 2003, in 2005 erepenning van die US se klub van SR-voorsitters, twee eredoktorsgrade – US in 2001 en UP in 2007 en in 2013 die Departement van Kuns en Kultuur se toekenning vir haar lewensbydrae. Ander internasionale bydraes sluit Olivier-toekenning (London) vir die beste toneelstuk en Obi-toekenning vir die beste draaiboek (New York). Die Recht Malan-prys vir nie-fiksie en die Via Afrika Letterkundige toekenning vir Reisiger in 2010. In 2011 is sy die Wooedfeeskunstenaar by die Woordfees en in 2001 wen sy die Louis Hiemstra-prys vir nie-fiksie.

Elsa se laaste publikasie, Spertyd (2017), was die voltooiing van ’n outobiografiese drieluik wat ingelei is deur 'n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009). Spertyd, wat hoofsaaklik fokus het op die skrywer se tyd in die aftreeoord in Kaapstad waar sy vir baie jare gewoon het, sluit op gepaste wyse haar roemryke skrywersloopbaan op ’n hoogtepunt af en word bekroon met drie prestigeryke pryse, die kykNET-Rapportprys, die ATKV-prys en die L.W. Hiemstraprys.

Elsa het gesê: “Sonder Afrikaans is ek stom. ’n Taal word bedreig as hy nie meer die vanselfsprekende huis is waarin jy woon nie. So vanselfsprekend soos asemhaal.”