Hoe ken jy ’n sosiopaat uit? Lees hoofstuk agt van André le Roux se nuwe boek om uit te vind…

05 July 2017 - 10:39 By lapa uitgewers
subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now

Jy het vandag niksvermoedend by minstens een psigopaat verbygeloop.

En by die huis wag ‘n narsis op jou en ‘n sluiper by jou venster. Wie is hierdie ongure, gevaarlike mense?

Uitgebreide navorsing en gevallestudies – van Daisy de Melker tot Oscar Pistorius – maak hierdie mense werklik en herkenbaar. Sodat jy hulle kan vermy…

M.E. se eie Psigopaat-toets

Op haar blog, www.sociopathworld.com, het M.E. Thomas in Desember 2010 haar eie “Sociopath test” aangebied: “How to spot them before they target you.” (Uit die mond van die sosiopaat … en let op die “hulle”.)

Sy kry dié vraag gereeld en uit haar persoonlike ondervinding met (ander) sosiopate glo sy daar’s ’n paar maklik waarneembare gedrags- of persoonlikheidseienskappe waaraan jy ’n sosiopaat kan uitken:

  1. Sosiopate maak tipies nie soveel praatjies oor hulself soos normale mense nie. Hulle sal die gesprek teruglei na die ander persoon. (M.E. sê sy’s altyd die een wat ’n gesprek beëindig, skielik. “Die enigste ding waarvoor ek werklik omgee wanneer ek met mense praat, is om te kry wat ek wil hê.”)
  2. ’n Sosiopaat sal “persoonlike” detail strategies deel met die doel om die ander persoon te mislei of ’n vals sin van intimiteit/vertroue te skep. Sosiopate sal selde die waarheid oor hulself praat.
  3. Sosiopate aarsel gereeld voordat hulle antwoord. Sy sê dit sal nie vir jou duidelik wees of hulle verveeld, vies is of jok nie. Of dalk al drie.
  4. Hulle het nie sterk reaksies op omstrede politieke of sosiale onderwerpe nie (soos byvoorbeeld Katolieke priesters wat kinders molesteer).
  5. ’n Monotone stem. “Sê hulle my.” M.E. praat met ’n doelbewuste aksent om haarself ’n bietjie meer misterieus, aantreklik en niebedreigend te maak.
  6. ’n Geneigdheid om dinge te letterlik op te neem, of om andersins nie toepaslik te reageer op klein emosionele tekens nie. Sosiopate, nes skisofrene, verstaan nie sarkasme en ironie of abstrakte taal soos metafore nie – nog ’n manier om hulle uit te ken. Wanneer iemand byvoorbeeld ’n glas breek en jy sê: “Dis nou mooi…” sal die psigopaat/skisofreen reageer met: “Wat’s so mooi aan ’n glas wat breek?” (Of Oscar Pistorius wat opreg om verskoning vra omdat Anneliese Burgess weer begin rook het.) Maar gelukkig, sê M.E., kan sosiopate ook wegkom deur alles letterlik op te neem. Wanneer sy sou sê sy’s lus en maak daardie oulike klein diertjie dood, dink mense sy maak ’n grap.
  7. Kil afsydigheid teenoor een of meer gesinslede. (M.E. sê wel sy’s baie lief vir haar familie. “Pseudoliefde” het Hervey Cleckley dit genoem.)
  8. Hy’s oënskynlik ’n ander mens wanneer die sosiopaat ingedagte is, wanneer sy aandag by iets anders is.
  9. Geen verband tussen wat die sosiopaat sê en doen nie. Byvoorbeeld: Dit lyk of hy goeie dade doen, maar hy gee nie werklik geld vir, byvoorbeeld,haweloses nie.
  10. Toon nooit tekens van verleentheid nie. Kry maklik en selfversekerd groot gehore in die palm van sy hand. Dis bloot ’n gebrek aan senuwees.
  11. Voldoen nie aan die stereotipes van gender, ras, etnisiteit, ouderdom, seksuele oriëntasie of loopbaan nie. Hy kan dus nie so maklik “geplaas” word nie.
  12. Kan heen en weer wissel tussen ’n baie lae profiel handhaaf (die waarnemer) tot kaatjie van die baan (die akteur). M.E. meen omdat hierdie eienskappe nie direk deel vorm van klassieke sosiopatiese of antisosiale gedrag nie het die sosiopaat minder rede om dit weg te steek. Wat hom of haar dan makliker herkenbaar maak. Sy glo wat die sosiopaat eintlik van alle ander mense onderskei, is “ons kompulsies, ons motiverings en die narratiewe wat ons vir onsself oor ons innerlike lewens vertel”.
  13. Sosiopate vertel teenstrydige stories. Haar boek is op sigself ’n storie met heelwat teenstrydighede. Byvoorbeeld: Sy was nie die slagoffer van kindermishandeling nie, sê sy, maar vertel dan hoe haar “gewelddadige” pa sy kinders een vir een met ’n gordel afgeransel het, en haar ma was dikwels afwesig en soms “histeries”. Haar ouers was narsiste. Desondanks het sy ’n hegte gesin (hoewel “disfunksioneel”). Sy sluit ook haar boek af met die begeerte om uit te kom agter haar masker. Maar dis nog te onveilig. Sy waarsku dan ander sosiopate: “Daar is boeke en webblaaie wat daaraan gewy word om sosiopate uit te ken en te vermy. Moenie met hierdie mense praat nie, moenie naby hulle kom nie, moenie in hul strik beland nie.” Nadat sy pas gesê het hoe om ’n sosiopaat uit te ken … Psigopate kom nie hul eie teenstrydighede agter nie. Klaarblyklik hanteer hulle hul teenstrydige stories nes hul leuens – trek net skouers op. Uiteindelik is die psigopaat (of narsis) se hele lewe onder verdenking. M.E. se dertien punte is uitgebrei deur lesers van haar blog:
  14. Kom dikwels sag, liefdevol of passievol voor, maar kan ewe skielik omswaai na selfgesentreerd, koud en onapologeties, en omgekeerd.
  15. Kan oënskynlik almal se probleme verstaan, is logies en gee raad.
  16. Hy’s goed daarmee om raad te gee oor sosiale manipulasies, kamma om vriende, geliefdes en familie te “help”.
  17. Die “suur” of wrang glimlag van doelbewuste leuenaars. Oor die algemeen is dit ’n suur gesigsuitdrukking om enige ander uitdrukking op daardie oomblik weg te steek.
  18. ’n Rigiede, doodse, “gevriesde” gesigsuitdrukking. Psigopate self word nie van stryk gebring deur direkte oogkontak nie. Die meeste mense voel ontsenu as hulle aangestaar word. (“Wat kyk jy?” sou ’n tipiese reaksie wees.) Wanneer mense gesels, maak hulle oogkontak, kyk weg, maak weer oogkontak. Dit help om hul gedagtes agtermekaar te kry. Die luisteraar kyk gewoonlik meer in die spreker se oë as andersom. En wanneer die spreker dan té langdurige oogkontak maak, laat dit die een wat in die oë gekyk word ongemaklik, selfs kwesbaar voel.

“Deur nie ordentlikheidshalwe weg te kyk nie word dit dikwels beskou as selfversekerd, aggressief, verleidend of roofdieragtig,” skryf M.E. “Die aangename doodgewoonheid van my hare wat liggies aan my wimpers raak, is daar om die intensiteit van my oë te neutraliseer. Hulle is deurdringend en gevoelloos.”

Maar wees bedag daarop: Die psigopaat kan ook kyk om te verlei. Met ’n amper hipnotiese kyk “so diep in jou oë”, en hy maak seker dit laat jou nie ongemaklik voel nie, eerder belangrik, asof hy werklik in jou as mens belangstel.

Kil. Berekend. Dalk met ’n glimlaggie.

Die enigste manier om die psigopaat se blik te troef is om nie weg te kyknie. Maar dis nie so maklik nie.

Daardie kyk maak jou bang.

Boekbesonderhede

Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste deur André le Roux

EAN: 9780624072218

Find this book with Loot!

Article supplied by Lapa Uitgewers/André  le Roux


subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now