Hoe om ’n heel vis oop te braai – laat waai met Jan Braai!

Braai 'n volkome oop vis in vier maklike stappe

13 December 2018 - 12:24 By Jan Braai and nb-uitgewers/publishers
subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now

Wanneer jy ’n vars vis reg braai, sal dit vir seker ’n wonderlike maaltyd wees, ’n anker in ’n wêreld vol onsekerheid.

Ek kan eenvoudig nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is dat die vis vars moet wees nie. Soos ek vroeër genoem het, kan jy ’n heel vis ‘oop’ of ‘toe’ braai, dit hang van jou smaak af. As jy hom oop braai, is ’n groter deel van die vis aan die hitte en braaigeure blootgestel en word hy ook vinniger gaar.

Die belangrikste stuk toerusting vir die resep is ’n toeklaprooster – moenie jou simpel hou en die vis daarsonder probeer draai nie.

WAT JY NODIG HET

(1,5 kg vis is genoeg vir 4 mense; 2 kg vir 6 mense)

1 heel, vars vis (iets soos geelbek, kabeljou of geelstert)

koppie botter (gesmelt)

4 huisies knoffel (opgekap)

2 suurlemoene se sap

1 sopie gekapte pietersielieolyf- of sonneblomoliesout en peper

LAAT WAAI!

1. Smelt die botter en meng die knoffel, suurlemoensap en pietersielie by. Jy gaan dié sous gebruik om die vis mee te bedruip terwyl hy braai.

2. ’n ‘Oop’ vis het twee kante, ’n vleiskant en ’n velkant. Smeer of verf die olie aan albei kante en maal dan die sout en peper oor die vleiskant.

3. Sit die vis in ’n toeklaprooster en braai op matige tot warm kole met die vleiskant na onder vir omtrent 3 tot 4 minute, totdat die vleis ’n ligte goue kleur kry. Draai nou die rooster om en braai die vis met die vel kole se kant toe totdat hy gaar is.

Altesame sal die braaityd tussen 14 en 20 minute wees en afhang van die grootte van die vis, die hoogte van die rooster en die hitte van die vuur.

Verf die vis deurlopend met die sous.

Al moet jy dit tot ’n minimum probeer beperk, moet jy jou nie te veel daaroor bekommer as die velkant plek-plek effens brand nie – jy gaan nie die vel eet nie. Ek sien visvel as ’n natuurlike tipe foelie.

4. Die vis is gereed wanneer die vleis wit geword het, van die grate af wegtrek wanneer jy daaraan wikkel, en vlok wanneer jy ’n vurk insteek. Onthou die goue reël: As jy dink hy’s reg, is hy waarskynlik reg.

EN . . .

’n Vis wat effens kleiner is, kom ons sê so 1,3 kg, met sy kop en stert verwyder, pas lekker saam met vierhalwe krewe op ’n gewone toeklaprooster. Jy kan dit saam braai vir 14 minute en só ’n top-klas ete vir vier mense berei.

subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now