Lees ’n uittreksel uit Danie Smuts se Boererate

Raad vir elke kwaal, van aambeie tot wingerdgriep

13 December 2018 - 11:41 By Danie Smuts and penguin random house sa
subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now

Artikel geplaas op 4 September 2015.

Die heruitgawe van Danie Smuts se 1989 trefferboek, Boererate, saamgestel deur Anna Vimercati, het vanjaar by Penguin Random House South Africa verskyn.

Hierdie boek bevat ’n keur van die tradisionele advies wat luisteraars oor die jare vir Smuts se radioprogram ingestuur het.

As proestukkie, hier is drie uittreksels uit Boererate: ’n Voorwoord deur Professor doktor Nol van Blerk, ’n inleiding tot die teks deur Smuts en ’n paar kure vir allerhande kwale – van aambeie tot wingerdgriep. 

Boererate – ’n Mens wonder waar en wanneer die oorsprong.

Is die Boer die plattelander of is die woord sinnebeeldig van die Afrikaanssprekende, hetsy dorpenaar of plaasboer? Spel jy dit met ’n hoofletter, dan is dit die Afrikaanssprekende.

In party woordeboeke word die woord “Boererate” nie gevind nie, maar wel “Boeremiddele”. ’n Middel is immers aanduidend van ’n voorskrif, terwyl rate liewer die indruk skep van oorlewing.

Daar is meer romanse in die woord “rate” as in “middele”. Oorlewing is gebore uit hoorsê, observasie, ondervinding, mite, geloof en die magiese. Die oermens het gou kennis gemaak met beserings en wonde, dié was die gevolg van fisieke, tasbare elemente. Siektes was onverklaarbaar, die oorsaak die onaantasbare.

Maar die vroeë mens het by die dieresamelewing gesien en geleer en moontlik so ’n titseltjie eksperimentasie bygevoeg – as pylgif kon gemaak word, was daar dan ook nie die nodige vir natuurfarmasie nie?

So het die Grieke honderde jare voor Christus plantegroei ingedeel in medisinale en nie-medisinale spesies, en tot onlangs moes die mediese student nog plantkunde as ’n eerstejaarvak neem.

Maar die misterie van siekte roep die onbekende op, en die oorsaak word gesoek by besoeke van die ongewenste. Vandaar die genesing deur gepaardgaande rituele.

Maar ook nie altyd nie – die boervroumoeder met konsentrasiekamp-ondervinding moes haar kind se witseerkeel diagnoseer en behandel met dit wat sy ken: stoom, en die nog warm linker-wolkous om die nek. Sy het nog nie geweet van serum nie, terwyl die stadsvroumoeder die dokter byderhand het en nooit daardie soort wroeging hoef mee te maak nie.

Ons het hier met sowel die etniese as die geografiese Boer te make. Die misterie van juis die linker-wolkous is moontlik dat van die min kinders wat die siekte oorleef het in die kamp so behandel is.

Warm, vars afgeslagte katvel vir maagvliesontsteking het die strelende effek van hitte en kan ook die kwaad uittrek. En hoekom kat? Dié is mos volop op ’n plaas, teel vinnig aan en is ontbeerlik!

Die boekstaaf wat so eie is van ons nasie moet vir die nageslag bewaar word en ons is dankbaar vir Danie Smuts dat hy hierdie belangrike saak sy verantwoordelikheid gemaak het.

Prof. dr. Nol van Blerk NOVEMBER 1988

* * * * * * * *

Hierdie beskeie bydrae tot ons volkskunde het sowat negentien jaar gelede sy oorsprong gehad toe ek in die goeie ou dae van Springbok Radio deur die hoofde versoek is om die oggendprogram waar te neem.

Ek het dadelik besef dat alle uitsaaiers in ’n mate gebruik maak van ’n truuk om luisteraars te trek – en, belangriker, die getal te bou en te behou.

Die gedagte aan boererate het onmiddellik by my opgekom, miskien omdat ek as kind die soort middele heel dikwels moes inneem … of met ’n blikkie agter die bokke moes aanloop om die waardevolle kruie-uitskeidinkies huis toe te bring sodat die maselspasiënte daarmee verpleeg kon word!

Aanvanklik wou my nuwe “publiek” nie juis byt aan hierdie nuwe omroepertjie se lawwigheid nie, en ek moes maar kwaai spook om self met die nodige navorsing ’n versameling op te bou.

Tyd en geduld, veral dié van my hoofde, was my egter goedgesind en mettertyd het die briewe wat eers drupsgewys ingekom het, geswel tot ’n vloed wat nou na bykans twintig jaar nog nooit afgeneem het nie.

Alle eer en dank dus aan die wonderlike vriendekring van luisteraars wie se bydraes my taak vergemaklik het.

Om elkeen persoonlik hier te noem is vanselfsprekend onmoontlik, maar veral die name van mnr. en mev. Goerke van Verwoerdburg kan nie verswyg word nie, sowel as mev. Stuart van Somerset-Wes. Baie dankie vir hul hulp en samewerking.

Die volksgeneeskunde is so oud as die mensheid self. Dit het ontstaan uit die ingebore strewe by die mens na selfbehoud. Ons volksgeneeskunde het ontstaan in tye van swaarkry, “op die ver verlate vlaktes met die kreun van ossewa”. Hierdie volksgeneeskunde het in die vorige eeu oorlewering geword.

Die meeste van die ou rate kan vandag natuurlik nie meer met die moderne geneesmiddels kompeteer nie, maar hulle kan in noodgevalle dikwels as goeie plaasvervangers dien, wanneer ander geneesmiddels ontbreek.

Baie keer steun moderne geneesmiddele en dié van die volk op dieselfde beginsel. Penshare van ’n mannetjieskat sal help vir benoude bors – as gevolg van dieselfde beginsel as waarop baie moderne asmamiddels berus. Die hare is naamlik ryk aan stikstowwe, wat by verbranding suurstof vrystel. Dieselfde geld vir stinkblaar wat ’n aktiewe stof bevat wat vandag teen asma ingespuit word.

Dit is wonderlik om te besef dat dit die natuur self is wat die natuur genees. Die meeste van die aktiewe geneesmiddels is trouens heeltemal toevallig ontdek. Kinien is op dié manier ontdek toe die vrou van die Spaanse onderkoning in Suid-Amerika die inboorlingraad gevolg het om van die skorse van ’n bepaalde boom te eet om haar malaria te genees.

Die ontdekking van een van die vernaamste hartmiddels is aan ’n dergelike geval te danke. ’n Duitse vrou het aan ’n swaar hartkwaal gely en daar was vir haar geen hoop meer nie, tot sy eendag op raad van ’n buurvrou ’n afkooksel gemaak het van een van haar sierplante: die “Duitse vingerhoed” (Digitalis purpurea). Dit het haar van haar hartkwaal genees.

Ons bied dus interessantheidshalwe van die boererate in my besit aan (ja, daar is nog baie meer), maar meld dat van die rate nie heeltemal vry is van gevare nie en ons kan geen verantwoordelikheid aanvaar nie.

Oor die algemeen kan ons egter sê: boereraat is goeie raad!

Danie Smuts

* * * * * * * * 

Fiks (om fiks en gesond te bly): Drink elke derde môre 7 druppels Jeyes Fluid op suiker, en koffie agterna. Mev. Issie van der Schyff van Roossenekal.

Wingerdgriep: As ’n mens gaan partytjie hou, drink gerus ’n liter melk voor jy gaan. Die ou voggies sal dan nie maklik sy nare uitwerking hê nie. Of eet ’n blik sardyntjies op. Dit neutraliseer die alkohol in die drank en jy voel nie so sleg nie. – Mev. Charmaine de Bruyn van Newcastle.

Waterprobleme: Gaan na die slagpale. As dit ’n vrou is, kry ’n varkbeer se blaas en as dit ’n man is, ’n varksog se blaas. Was die blaas mooi skoon. U eerste urine van die oggend gooi u in die blaas. U kan gebruik maak van ’n tregter om dit in die blaas te gooi. Bind dit baie goed toe met ’n toutjie; dit moet nie kan lek nie. Gee dit aan iemand by u in die huis om dit vir u te gaan begrawe, maar u mag nie weet waar hy dit in die erf of waar ook al begrawe het nie. Die dag wanneer die blaas vrot en die water uitkom, sal u in die toilet boer en dit is die einde van u waterprobleme. – Onbekend.

Oorpyn: Soek ’n klein krappie in die rivier. Druk die krap dan dood. Braai die krappie in 1 bottel soetolie uit. Sif deur ’n doekie. Gebruik wanneer nodig. – Welmarie du Preez van Dordrecht.

Rumatiek: Jy neem ou transformatorolie en vryf dit goed in elke aand voordat jy gaan slaap. Dit moet spesifiek ou olie wees, omrede die ou olie elektrisiteit bevat. Die transformators word gewoonlik na ’n sekere tyd vervang met nuwe olie. So die mense kan maar ’n vriend vra wat by ESKOM werksaam is om ’n bietjie ou olie te bekom. Al die dorpe het gewoonlik ’n ESKOM-substasie. Ek wil net noem dat dit ’n baie skoon olie is en mense hoef nie bang te wees vir hulle beddegoed nie. Hierdie raat kan ek waarborg. –Neels Joubert van Secunda.

Asma: 1 zol dagga, ½ bottel jenewer. Neem ’n groot lepelvol soggens en saans. – Mev. Aletta Knoetze, ingestuur deur Iris Harrison-Sagar van Port Elizabeth.

Beroerte: 1 groot lepel tiemie, 1 groot lepel wynruit, 1 groot lepel dagga, 1 botteltjie balsem-vita, 1 klein stukkie duiwelsdrek. Kook die kruie in 1½ bottels water tot sterk getrek. Laat afkoel. Gooi in ’n bottel. Gooi nou die balsem-vita in en ook die duiwelsdrek. Laat staan een dag. Drink ’n kelkie elke môre. Dit hou ook bloeddruk konstant. – Mev. A.S. van Staden van Kensington, Johannesburg.

Swanger (dié raat is vir iemand wat nie kan swanger raak nie): 1 bottel ou portwyn, 1 botteltjie bruindulsies, 1 botteltjie wonderkroonessens, 1 botteltjie versterkdruppels, 1 botteltjie fosfirien. Gooi al die botteltjies in die portwyn. Neem 3 maal ’n dag ’n halwe kelkievol. Die persoon het nog nie eers die bottel klaar gedrink nie, toe was sy swanger. –Mev. D. Scharneck van Petit.

Aambeie (piles): Alternatiewe behandeling vir aambeie. ’n Huisie knoffel na opelyf in die rektum opgedruk en moet daar gehou word so lank moontlik, ook gedurende die nag. –D.A. Boshoff van Ventersdorp.

Aambeie: Vat net ’n bietjie Colgate-tandepasta en sit dit aan, of Vicks. Dit brand so vir ’n minuut maar daarna is alles reg. Maar dit moet Colgate wees. – Harried en Tony Nel van Bellevue East.

Artritis: Gebruik remvloeistof van motors op plekke wat pyn – dep dit aan, nie smeer nie. – Floryn van Uitenhage.

Kake (stywigheid in die kake): (1) Braai erdwurms met soetolie en smeer. (2) Sny milt van skaap of bok deur en maak onder voetsole vas. Herhaal totdat beterskap intree. – Dié rate kom uit Die Afrikaanse Huisdokter, deel 1, deur H.K. Wagner.

Karkatjie: Trek die stert van ’n swart kat deur die oog. –Welmarie du Preez van Dordrecht.

Karkatjies: Neem ’n breë, goue ring en vryf dit warm teen jou mou en druk die warm ring op die karkatjie. Herhaal ’n paar keer, kort-kort, en die karkatjie word gou ryp, en genees. –Fluffy Holtzhausen van Secunda.

Lees ook:

Uittreksel verskaf deur Penguin Random House SA.

subscribe Just R20 for the first month. Support independent journalism by subscribing to our digital news package.
Subscribe now