'Dit is nie meer vir my vanselfsprekend om te skryf nie, nie meer ’n vreugde nie,' skryf Karel Schoeman in Die laaste reis

"Maar dit moet nogtans opgeteken word, hierdie laaste besoek, om my vroeëre verslae aan te vul en af te sluit."

13 January 2019 - 15:57 By BooksLIVE

Die laaste reis is Karel Schoeman se “reisbriewe” - mymeringe, gedagtes en herinneringe van sy laaste drie kort reise na Lesotho saam met Jemina Meko en Mamohau Lekula wat hom die afgelope nege jaar versorg het.

Dit behels drie kort verslae oor sy besoeke in die maand voor sy dood en is in die vorm van e-posse aan ’n paar “persoonlike korrespondente” gestuur.

Vanselfsprekend staan die tema van afskeid sentraal in die briewe.

Uit die boek:

Ek teken hierdie dinge op uit pligsgevoel, as ’t ware onder dwang; want dit is nie meer vir my vanselfsprekend om te skryf nie, nie meer ’n vreugde nie, laat staan nog ’n bevryding, en die woorde kom ook nie meer vanself nie. Maar dit moet nogtans opgeteken word, hierdie laaste besoek, om my vroeëre verslae aan te vul en af te sluit.

Op sommige van die foto’s wat Mamohau in Lesotho so geesdriftig met haar selfoon geneem het, verskyn daar iemand wat ek in ’n berig aan ’n korrespondent beskryf het as ’n afgetakelde ou man met wasige blik en verwarde wit hare. Byna het ek op die treetjies van die hotel in Mohaleshoek gekantel en geval.

Dit was die laaste reis.

Karel Schoeman was een van Suid-Afrika se produktiefste en vernaamste skrywers en het talle romans, novelles, dramatekste en historiese werke geskryf. Sy werk is talle male bekroon, o.a. met die Hertzogprys, die Recht Malan-prys en die N.P. van Wyk Louw-toekenning van die FAK. Hy is op 1 Mei 2017 oorlede.

Artikel verskaf deur Protea Boekhuis.

X