Bly dié winter warm met Gadija Sydow Noordien se snyboontjiebredie

"In die ou dae het ons gekyk hoe ons oumas en tannies en my mammie die snyboontjies met ’n klein, skerp lemmetjie opsny"

07 May 2019 - 11:25
By nb-uitgewers/publishers AND NB-Uitgewers/Publishers
Dié susters glo aan lekker huiskos en resepte wat vinnig, maklik en bekostigbaar is.
Image: NB-Uitgewers Dié susters glo aan lekker huiskos en resepte wat vinnig, maklik en bekostigbaar is.

In Kaap, kerrie & koesisters neem die tweelingsusters Fatima en Gadija ons op ’n tradisionele Kaaps-Maleise kosreis wat terselfdertyd ook ’n lewensreis is, want die resepte word saamgesnoer met herinneringe aan hulle grootwordjare op die Kaapse Vlakte en die vroue wat so ’n groot rol gespeel het om ’n liefde vir koskook en bak by hulle te kweek.

Die susters glo aan lekker huiskos en resepte wat vinnig, maklik en bekostigbaar is – soos wat hulle geliefde oorlede moeder se kookstyl ook was. Maar die boek bevat ook uithangresepte vir daardie spesiale geleenthede!

Wat is dan nou lekkerder as ’n pot tradisionele gheemakerrie, of Fatima se alombekende kerrievis, akni, dhaltjies en piesangbrood?

En probeer gerus Gadija se sambals, smoortjies en bredies met die geurigste speserye. Met afdelings soos sop, bredies, poedings, vleis, vis, koeke en gebak is die boek beslis ’n moet vir elke Kaaps-Maleise lekkerbek – en elkeen wat nog altyd meer wou weet van die Kaaps-Maleise kookkuns!

Fatima is 'n ervare huiskok en baie gewild vir haar spyseniering. Haar daaglikse Facebook inskrywings word verslind deur huiskokkie en kosliefhebbers regoor die wêreld. Sy en haar suster Gadija is die aanbieders van die kosprogram Kaap, kerrie en koesisters op DSTV, kanaal 147.

Gadija, die bredie-queen, is ook 'n kranige bakster en bekend vir haar snowballs. Sy is ewe tuis in die kombuis as biblioteek as hoof-bibliotekaris by Laerskool Seaview in Mitchells Plain. Sy is 'n aktivis vir letterkunde en het al talle toekennings vir haar rol ontvang.

Image: NB-Uitgewers "In die ou dae het ons gekyk hoe ons oumas en tannies en my mammie die snyboontjies met ’n klein, skerp lemmetjie opsny."

SNYBOONTJIEBREDIE

In die ou dae het ons gekyk hoe ons oumas en tannies en my mammie die snyboontjies met ’n klein, skerp lemmetjie opsny. Party mense doen dit vandag nog so, maar ek het al jare gelede opgehou omdat ek myself raakgesny het en nou ’n bangbroek is. Maar dit keer my nie om hierdie gewilde gereg elke maand ’n hele paar keer te maak nie! Komkommersambal is my gunsteling saam met dié bredie, want dit balanseer die geure perfek.

60 ml (¼ k) kookolie

2 uie, fyngekap

2 brandrissies, in dun skyfies gesny

2 kaneelstokkies

2 wonderpeperkorrels (piment)

2 heel naeltjies

1,5 kg lamsvleis stukkies

sout en swartpeper na smaak

6 aartappels, geskil en in blokkies gesny

700 g snyboontjies (groenboontjies), gekap

  1. Verhit die olie in ’n groot kastrol oor matige tot hoë hitte en braai die uie, brandrissies en heel speserye totdat die uie goudbruin is. Voeg die vleis by en braai alkant bruin – hoe bruiner hoe beter. Voeg 500 ml (2 k) warm water by en kook vir 30–40 minute of totdat die vleis sag is.

  2. Voeg die sout en peper by en stowe vir 5 minute. Plaas die aartappels bo-op die vleis en die boontjies bo-op die aartappels. Voeg 250 ml (1 k) warm water by en laat prut oor matige hitte vir sowat 20 minute totdat die aartappels en boontjies sag is.

  3. Dit is nou die tyd om al die bestanddele in die dis te proe en te besluit of dit dalk nog smaakmiddels kort of nog ’n rukkie langer moet prut. Strooi ’n bietjie sout en peper oor of voeg ’n bietjie warm water by en laat prut nog ’n rukkie indien nodig.

  4. Sit voor saam met witrys en komkommerslaai of atjar.

WENK: Dit is noodsaaklik om altyd naby die einde van die gaarmaaktyd ’n lepeltjie vol te proe om te kyk of daar nog enigiets kort.