Dié versameling van verhale oor verlies sal jou laat huil - en lag

’n Aangrypende boek wat beloof om lesers te roer en weer te laat dink oor hulle prioriteite in die lewe

28 May 2019 - 12:18
By jonathan ball publishers AND Jonathan Ball Publishers
'Wreed én mooi is die dood' bevat uitstekende bydraes wat jou sal laat huil . . . en lag.
Image: Jonathan Ball Uitgewers 'Wreed én mooi is die dood' bevat uitstekende bydraes wat jou sal laat huil . . . en lag.

Van die oomblik wat ons gebore word, begin ons ook te sterf.

Maar al is die dood een van die algemeenste menslike gebeurtenisse, vermy die meeste mense om daaroor te dink of te praat.

Wreed én mooi is die dood – met bydraes deur top Afrikaanse skrywers – probeer hierdie stilte te verbreek.

Deur hul diep persoonlike verhale oor verlies en heling te deel, bied die bydraers onbewustelik ook raad vir hoe om die hartseer van ’n geliefde se dood te verwerk en hoe om jou eie sterflikheid te konfronteer.

So vertel Marita van der Vyver van haar babaseun se dood, terwyl Valda Jansen beskryf hoe sy lamgelê is deur die nuus dat sy kanker het en Kerneels Breytenbach deel sy ervaring van eensaamheid na sy vrou se dood.

’n Paramedikus beskryf sy daaglikse ontmoetings met die dood, daar is ’n lys van dinge wat ’n mens vir ’n sterwende moet sê en nie moet sê nie en ook ’n bespreking van die rituele om die dood.

Daar is soms selfs ’n bietjie humor . . . soos die storie oor die jong dominee wat in ’n leë graf geval het en Annelie Botes se voorbereidings vir haar begrafnis.

Dit is ’n aangrypende boek wat beloof om lesers te roer en weer te laat dink oor hulle prioriteite in die lewe.