As jy ’n boek verwag deur ’n volmaakte, pyn-in-die-gat prinses oor hoe om liefde en kalmte te vind, soek dan verder. Seks, leuens en die internet is ’n rou, eerlike vertelling deur ’n vrou wie se hart gebreek is, maar weier om moed op te gee.
Dit is snaaks.
Dit is hartseer.
Dit is smaakvol.
Dit gaan chauviniste kwaad maak.
Dit is die eerste niefiksieboek wat onder Wenkbrou se vaandel verskyn; geskep onder die fyn leiding van Marida Fitzpatrick.
Op 50 lyk al die prinse en perde bra gehawend, maar vasbeslote durf Erla die wilde wêreld van aanlynafsprake aan, moedig op soek na haar sielsgenoot.
Hierdie boek gaan oor die soeke na die self en die oeroue stryd tussen die brein en die hart. Die vraag is net: Wie gaan dié keer wen?
Seks, leuens en die internet is deel van die immergewilde selfhelp-genre en kombineer die onderwerpe van verhoudings, seks en selfondersoek.
Erla-Mari Diedericks is ’n joernalis, rubriekskrywer en outeur. Sy is al meer as 28 jaar ’n joernalis en het al vir byna elke publikasie in Suid-Afrika geskryf, selfs vir Playboy. Tans skryf sy rubrieke vir Netwerk24 wat dikwels mense laat regop sit. Dié boek, soos haar rubrieke, bevat talle komiese gebeurtenisse waarmee lesers kan identifiseer. Seks, leuens en die internet is Erla-Mari Diedericks op haar beste.