Fiksie Vrydag: lees 'n uittreksel van 'In 'n land sonder voëls' deur Harry Kalmer

'At least I'm dying a good-looking corpse.' Dis wat jy gesê het. Ná jou inspuiting daardie aand. Nog in jou jeans het jy op ons bed gelê. Happy is the new rich, het op jou t-hemp gestaan. Nie een van ons het gelag nie.

28 June 2019 - 10:31
'In ’n land sonder voëls' is ’n verdoemende ondersoek na die impak van ’n totalitêre bestel.
'In ’n land sonder voëls' is ’n verdoemende ondersoek na die impak van ’n totalitêre bestel.
Image: Penguin Random House

Oor die boek:

Wanneer ’n mediese dokter die aandag van die Sentinels trek, moet hy deur ’n verwoeste landskap vlug. In ’n wêreld waar ’n skynson lig verskaf, raak hy ’n pion in ’n komplot waarvan hy onbewus is.

Selfs die verdwyning van sy kind tydens die chaos en die kosopstande voor die Wending kon hom nie hierop voorberei nie.

In ’n land sonder voëls is ’n verdoemende ondersoek na die impak van ’n totalitêre bestel en een man se besinning oor sterflikheid en dít wat ons mense maak.

Uittreksel:

Ek is nou al agtien maande hier. Dalk is dit tyd om my kant van die storie te vertel.

Watter jaar sou dit gewees het? As ons nog in die ou tyd was.

Net ná die Wending het ek dit nog presies geweet. Elke Seollal het ek my herinner: Dit is die Koreane se nuwe jaar dié en nie myne nie. Dan het ek die regte jaartal onthou: 2032, 2033, 20-wat-ook-al.

Deesdae weet ek dit nie eens meer nie. Al die geld, pille, die behandelings oor die jare om die jare terug te hou. Was dit alles tevergeefs? Verslyt ons breine, ons lywe maar nes dié van ons voorouers?

“At least I’m dying a good-looking corpse.” Dis wat jy gesê het. Ná jou inspuiting daardie aand. Nog in jou jeans het jy op ons bed gelê. Happy is the new rich, het op jou t-hemp gestaan.

Nie een van ons het gelag nie. Humor het ons oor die jare deur baie gekry. Maar nie daardie aand nie.

Ek tik met twee vingers. Af en toe kyk ek op, staar oor die see. Die ou grys rekenaar waarop ek tik, werk met sonkrag. Tegnologies so verouderd, dit was nooit deel van enige netwerk nie. Twintig jaar gelede sou dit my laat lag het. Nes ek vir dié projek sou gelag het. Om alles wat gebeur het, te probeer neerskryf. Of liewer, wat ek dink gebeur het.

Hier op my oudag het ek skielik die begeerte om dinge te deel. Al sê die mense ook dis nie so nie. Ek is ’n ou man. Dalk kan ek my ouderdom herwin, my waardigheid, deur ons storie te vertel. Deur die ou mens te word wat ek uiteindelik wil wees, wat steeds aan die oue vasklou.

’n Man van my jare word vandag nie meer as oud gereken nie. ’n Paar jaar gelede was dit die nuwe 55. Nou is ek seker die nuwe 32.

Ek is moeg daarvoor om dinge vir myself te hou. By die absurditeit van soveel dinge het ons twee nooit eens uitgekom nie. Die belaglikhede was net te veel.

Ons tyd was vasgevang in positiewe denke, goeie nuus. Wie sou twintig jaar gelede kon voorspel het Suid-Afrika gaan vandag die meeste rykes in die wêreld hê? Wie sou kon droom dat in ’n dorre dorpie aan die rand van ’n amperwoestyn daar dekades later honderdduisend welvarende inkommers sou woon?

Het ons dit op dieselfde manier verwerk as ons skok oor die Noordelike Halfrond? Deels ontkenning, deels rasionalisering? Onthou jy hoe ons voorgegee het dis normaal? Toe die Atlantiese Oseaan die strate van New York, Boston, Baltimore oorstroom, al die kusstede. Op die ou end het ons die nuus gewoond geraak. Ook toe ystsoenami’s byna weekliks die eertydse wêreldstede tref onder ’n hemel wat vir nege lang jare nie ophou sneeu het nie?

Niks wat ons gehoor het, het ons meer verbaas nie. Waar die land nie oorstroom het nie, was die grond in die Noorde so verys niks kon meer daarin groei nie. In die uiterste koue het ysterbrûe, treinspore verkrummel. Kragkabels het gebreek. So koud was dit dat vliegtuie nie meer gereeld kon opstyg nie. Net die sterkste, swaarste vragmotors het nog maklik gery. Die Arktiese hoogdrukstelsels het ál verder suid beweeg. Swembaddens in San Diego, Los Angeles, Tijuana het gebars van die koue.

Toe die vyfde yssomer aanbreek en die son steeds nie skyn nie, het die uittog begin. Dié wat geld gehad het, het gevlug. Suidwaarts getrek.

Gemigreer.

Na Australië, Suid-Amerika. Afrika.

En ons hier aan die suidpunt van Afrika was gereed om hulle te ontvang.

Dit was die vyftiende jaar van ekonokrasie. Vyftien jaar nadat ons ons demokrasie vir die Korporasie verruil het. Die politiek is geprivatiseer. Nes ons polisiediens en hospitale, dekades vroeër. Maar anders as die private sekuriteit en private hospitale was privatisering dié slag nie net vir die rykes nie. Dit was vir almal.

Politieke partye is deur korporasies vervang. Suid-Afrikaners moes al om die vyf jaar vir hul sakeplanne stem. Danksy tegnologie, die stygende reënval, die veranderende klimaat, het die eens barre Brandvlei in ’n groen lushof ontpop. Altesame 50 000 luukse wooneenhede is gebou. Die projek het uiteindelik aan amper 150 000 yskoue, dankbare Amerikaners en Kanadese blyplek gebied.

Ander dorpe het vinnig gevolg. Prieska langs die Gariep. By Upington het 56 nuwe golflandgoedere vir verblyf vir amper 200 000 inkommers gesorg. Genoeg om die bou van die koeëltrein tussen Jungsimi 2 en die Groen-Kalahari te regverdig.

Water is vinniger ontsout as wat die seevlak gestyg het.

Vir beide die aankomelinge én die gevestigde inwoners het voorspoed en ’n beter lewe aangebreek.

So het ons geglo, of so is aan ons vertel.

Maar nou leer ek ’n nuwe taal. Die taal van onthou.

Ek praat dalk die taal van onthou, maar ek het my leesbril vergeet.

Dit kom ek binne drie minute by my bestemming agter. In my verbeelding sien ek dit op die tafeltjie voor my bed, maar dit verbeter nie my sig nie.

Ek het my blyplek deurgekyk en my klere uitgepak. Toe een van die botteltjies wyn in die yskas gedrink.

Dis vir my lekker om alleen te wees, uitgelos te word. Ek raak in die gemakstoel in die sitkamer aan die slaap.

Teen die middag is ek verveeld en ek gaan stap. Op ’n sypaadjie voor ’n verlate huis is daar ’n hoop bourommel. Tussen stukke hout, gebreekte bakstene, leë sementsakke lê daar ook ’n klompie boeke. Mens sien nie meer dikwels boeke in die openbaar nie.

Een vir een tel ek hulle op. Die meeste se titels is in silwer of goud op die voorblad geëmbosseer. Die skrywers se name is groter as die titels. Misdaadfiksie en liefdesverhale. Nie die soort boek wat ek voor die Wending gelees het, toe boeke nog vrylik beskikbaar was nie.

’n Wit-en-blou omslag trek my aandag. Die skrywer se naam, Tom Payne, in blou letters bo die naakfiguur van ’n man, plat en sonder detail. Soos ’n knipsel van Matisse. Hy staan tussen twee blou varingblare. Sy regterhand is in die lug en in sy linkerhand hou hy ’n lier. Sy voete rus op die titel. The ancient art of growing old.

Ek vou die boek oop. Voorin is daar ’n aanhaling. Ek trek my oë op skrefies. If I had known I would have lived this long, I would have taken better care of myself.

Soos soveel male vantevore oorspoel die selfverwyt my oor dit wat met Jemima gebeur het. Momenteel is dit weer net so pynlik soos in die eerste jare ná haar verdwyning.

Die boek in my hand is swaar en klam. Die bladsye kleef aanmekaar. Ek trek die eerste twee van mekaar af los, maar sonder my bril is die klein swart letters betekenisloos. Honderde miere in gelid op ’n vergeelde agtergrond. Hoe lank staan ek daar na die rytjies en staar? Maar die letters is kleiner as dié van die aanhaling en wil nie woorde vorm nie.

Ek kyk versigtig om my rond. Die groen ruigtes tussen die huise is ’n woesteny van doring-, koejawel-, papaja- en piesangbome. Ek gewaar niemand nie. In die huis agter die rommel is daar geen teken van lewe nie.

Met die klam boek in die sak van my groen seilbaadjie, 45 jaar tevore by ll Bean in New York gekoop, stap ek verder en dink aan al die miljoene boeke, in stede dwarsoor die wêreld, wat saam met geboue, strate, motors, mense, onder die water verdwyn het.

In die hoofstraat is daar ’n supermark, ’n biblioteek waarvan die deur met ’n ketting gesluit is, ’n verlate hoenderrestaurant, ’n verwaarloosde hotel en ’n Sasol-laaistasie. Drie mans sit langs mekaar op die sypaadjie. Hulle reageer nie op my groet nie, maar ek voel hoe hulle my agternakyk.

By die laaistasie stop ’n kompakte rooi motortjie. Die bestuurder klim uit en prop een van die kabels in sy voertuig. Toe hy sy geldkaart in die laaimasjien druk, flikker die ligte. Eers rooi, dan geel. Toe dit oorslaan na groen, verwyder hy sy kaart, trek die kabel uit, klim terug in sy kar en vertrek geluidloos. Hy kyk nie een maal na my nie. Selfs in dié tyd van 90 jaar oue popsterre en 80-jarige Olimpiese ysskaatskampioene sien die jonges die oues nie raak nie.

By die supermark se ingang, in ’n outydse hok agter koeëlvaste glas, sit daar ’n vrou. Ek vra haar of hulle leesbrille aanhou. Sy sê hulle het nie ’n lisensie daarvoor nie. Ek vat ’n rooi plastiekmandjie en gaan kyk self, pak uit die halfleë rakke daarin ’n tros piesangs, ’n bakkie maalvleis, ’n boksie kerriepoeier, ’n bottel olie, drie uie, twee avokadopere, ses biere, en ’n pakkie suiker met ’n gesondheidswaarskuwing. Sugar is hazardous for your health.

Op die speelgoedrak is daar ’n plastiekvergrootglas, vasgekram aan ’n stuk karton met ’n tekening van Sherlock Holmes daarop. Ek haal die klam boek uit my sak en maak dit oop. Deur die plastiek is die letters net-net leesbaar.

Terug in my blyplek skakel ek die warmlaai aan van die outydse elektriese stoof en sit die boek daarin. Ná donker haal ek dit uit, stomend, die blaaie los van mekaar, maar die woorde bly rye miere.

Ek gaan haal die vergrootglas, sukkel om die plastiekdop van Sherlock Holmes af te skeur.

Dit duur ’n rukkie om uit te werk hoe ver ek die glas van die bladsy af moet hou, hoe ek dit van links na regs moet beweeg. My oë raak moeg.

Ek sit die boek neer, gaan skink uit een van die botteltjies in die yskas ’n glas wit wyn en drink dit vinnig. Ná nog ’n glas sit ek die ligte af en gaan sit op die groen kussing van die outydse wit plastiekstoel op die stoep.

Wanneer my oë aan die nag gewoond is, kan ek oor die digte plantegroei anderkant die straat die swart see net-net uitmaak. Die golwe breek onsigbaar op die strand en sug. Die muskiet wat om my kop kom draai het, is skielik stil. Ek klap my wang. Die gezoem is weg.

Die eerste keer in ’n lang ruk hoor ek ’n hond blaf. Die lisensiegeld waarop die Korporasie aandring, kan selfs die grootste diereliefhebbers dikwels nie bekostig nie. Die geblaf kom uit die wildernis agter die dorp. Die dier is seker ongelisensieerd. Die hinterland word minder streng beheer as die stede en dorpe, nedersettings en landbousones.

In my kinderdae was ’n identiese stranddorpie ons vakansiehouplek. ’n Paar winkels, strandhuise van welvarende binnelanders wat een of twee maal ’n jaar daar gekom het, ’n woonwapark met rondawels.

Elke Desembervakansie was ons daar. In my pa se Spritewoonwa. Soggens het vroue met emaljeskottels en grasmandjies op hul kop, ons wakker geroep. Dan het my ma haar verbleikte japon aangetrek, buitentoe gegaan en uit die skottels en mandjies wat die vroue op die grond neergesit het, vir ons papajas, piesangs en koejawels uitgesoek.

My pa, met sy lang visstok met die groot katrol, was dan al ure op die strand. In sy kakiekortbroek en frokkie, met sy bruin kerkhoed met die groen en geel veertjies in die hoedband op sy kop. Kaalvoet op die sand terwyl die son uit die see verskyn.

Kortstondig was die lug en die blink lywe van die elwe wat hy uit die branders trek, dieselfde kleur. Die wolke witgrys soos die pensvel van die vis, die horison silwer met geel spatsels soos hul skubbe.

Die muskiet is terug.

Ek vlug binnetoe, maak nog ’n botteltjie wyn oop en drink dit in die donker sitkamer. Deur die venster is die uitsig dieselfde as van die stoep af, maar die seegeruis is sagter en die muskiet is nou stil.

X