Fiksie Vrydag | 'Alleen onder die maan' deur Willem Krog

27 March 2020 - 10:17
'Alleen onder die maan' deur Willem Krog.
'Alleen onder die maan' deur Willem Krog.
Image: Verskaf

Nadat die ekonomie amper in duie stort, word die Suid-Afrikaanse regering gedwing om die land met ’n buitelandse rekenaarstelsel te regeer. Die rekenaarstelsel werk op kunsmatige intelligensie en reguleer feitlik elke aspek van mense se lewens. Selfs hofsake word deur ’n rekenaar behartig.

In hierdie distopiese wêreld is alles afhanklik van jou SOMSS-telling (System of Moral and Social Suitability). Dit bepaal waar jy mag woon, watter kos jy by People Eats mag bestel en hoe gereeld jy met People Move mag ry. Responsible Citizenship Learning, ’n verpligte SOMMS-module, leer jou die land se geskiedenis en wat dit verg om ’n goeie burger te wees.

Alleen onder die maan vertel die verhaal van Jaco, ’n 80-jarige individualis wat krities is oor hierdie totalitêre bestel, en sy seun, Pieter, wat as sy beroep rekenaarspeletjies toets en nie besef hoe die stelsel persoonlike vryheid bedreig nie.

Die boek het twee verhaallyne: Jaco se aangrypende herinneringe aan sy grootwordjare op ’n Vrystaatse plaas. Die tweede verhaallyn volg pa en seun op ’n laaste besoek aan die plaas buite Kroonstad in die huidige era waar alle plase gekonfiskeer en in megaplase omskep is en robotte en geoutomatiseerde voertuie al die werk doen.

In ’n roerende beskrywing, vertel Jaco hoe sy broers die maanlanding van 1969 op die plaas nagemaak het. Hy glo egter die tegnologiese ontwikkelinge wat op die maanlanding gevolg het, het die mens laat glo hy is god en het hierdie nuwe wêreld geskep.

Pieter is weer krities oor sy pa se generasie omdat hulle nooit opgestaan het teen apartheid nie, maar die ironie is dat hy nie besef hy leef in ’n ewe totalitêre wêreld nie.

Die verhaal tree nie net in gesprek met die Suid-Afrikaanse politiek nie, maar ook met die politiek van Afrikaans-wees.

Willem Krog is ’n skrywer en ’n digter wat in Johannesburg as prokureur praktiseer. Hy het ’n meestersgraad in grondwetlike reg. Sy eerste publikasie was die regsboek Constitutional Practice and Cases. Hy debuteer in 2011 met die fiksiewerk Jacobus terwyl sy eerste bundel poësie, Assignaat, in 2014 deur Hond Uitgewers gepubliseer is.

Uittreksel: 

Pa en ek het toe Kroonstad toe gegaan soos hy gevra het. Ons het in ’n konvooi met trokke gery. Vooraan die konvooi was ’n Jeep-bakkie met ’n masjiengeweer op die bak.

Op pad het ons verby die rioolplase gery. Dit het vreeslik gestink. Volgens die MegaCity-ontwerp moet daar voorsiening gemaak word vir abnormale rioolverwydering omdat die hoeveelheid baie meer is wat enige stad eintlik kan hanteer. Dit word herlei na ’n plek ver buite die stad waar dit in iets soortgelyks aan ’n ondergrondse myn gepomp word. Die projek het miljarde rande gekos, want skagte moes spesiaal daarvoor gesink word.

Johannesburg se skagte het egter baie gou vol geraak. Die regering het ontdek dat die ou wat die myn gebou het, nie die voorskrif nagekom het nie en die myn vlakker gemaak het as waarvoor getender is. Hy is gearresteer en aangekla.

Sy verhoor is direk uitgesaai. Dit was die eerste hofsaak in Suid-Afrika wat deur ’n rekenaar aangehoor is. Die man is skuldig bevind en is die doodstraf opgelê. Dit was ’n outomatiese straf soos deur die rekenaar bepaal.

Die regering het egter nie die geld om die man se brouwerk reg te maak nie en gevolglik loop die riool nou bogronds uit. Die stank!

Die System of Moral and Social Suitability, of SOMSS, is ingestel ná die staat byna ineengestort het en die rand basies geen waarde gehad het nie. Die Chinese het ons ’n groot hulppakket aangebied, maar daar was voorwaardes aan verbonde.

Eerstens moes ons bankstelsel oorskakel na crypto currency.

Tweedens moes die regering die Chinese se CGPA-sagteware (Complete Governance and Performance Audit) gebruik om die land te regeer. Onder andere bevat die CGPA ’n omvattende handleiding oor hoe ’n land regeer moet word met spesifieke ekonomiese en sosiale mylpale wat binne ’n sekere tydperk bereik moet word. Indien die mylpale nié bereik word nie, word die politici en amptenare gepenaliseer deur hulle salarisse te verminder.

Aan die begin was daar haakplekke, maar nou funksioneer die sisteem heel goed en het die ekonomie ook herstel. SOMSS en die hofrekenaar is deel van hierdie Complete Governance and Performance Audit.

Hoewel dit as ’n alternatief ondersoek is, kon ons nie die Amerikaanse hofsisteem bekostig nie. Hulle sisteem geld vir alle hofsake, nie net sommige nie, terwyl ons die hofrekenaar net vir kriminele sake wil gebruik.

Hier by ons luister die rekenaar na al die getuies, analiseer die voorleggings en maak ’n bevinding. Die bevinding word egter eers deur ’n paneel regters oorweeg wat kyk dat die hofrekenaar die nodige regsbeginsels korrek toegepas het. Die paneel van regters bevestig dan die rekenaar se bevinding, al dan nie.

Die Chinese was daarvan oortuig dat die rekenaar nie foute sal maak nie en dat die paneel van regters oorbodig is. Hulle het egter die kompromie aangegaan sodat ons die stelsel sou koop.

Ten spyte van al die waarskuwings vooraf en die masjiengeweer op die Jeep, het daar niks gebeur onderweg nie. Ons het in een stuk in Kroonstad aangekom. Of wat oor is van Kroonstad.

Pa het twee boeke saamgebring wat ouma oor Kroonstad geskryf het.

Ek kan my ouma so vaagweg onthou. ’n Ou vrou met ’n kierie. Haar hare was spierwit, soos pa s’n ook.

Pa se twee broers, oom Willem en oom Hennie, was ouer as hy. Hy het ook twee susters gehad – tannie Anna en tannie Jeanette.

Pa was gesteld op familiename. Die oudste seun word vernoem na die oupa aan vaderskant en die oudste dogter na die ouma aan moederskant. Die tweede seun na die oupa aan moederskant en die tweede dogter na die ouma aan vaderskant. Dis nou te sê as jy so baie kinders het. As derde seun is pa vernoem na sy oupagrootjie aan sy pa se kant.

Pieter is die naam van my oupa aan my ma se kant. Ek het sy naam gekry, want ek is die tweede seun. My ouer broer Jacques is toe nie na oupa Willem vernoem nie. Toe ek pa daaroor uitgevra het, het hy gesê dat dit ’n lang storie is.

Ons ry by ’n gebou verby wat eens ’n kerk moes gewees het.

“Kyk hier.” Pa maak een van die boeke oop. “Dit is hoe dit gelyk het.” Hy wys na ’n prentjie van ’n klipkerk met ’n hoë toring. “Ouma-hulle is in hierdie kerk getroud.”

’n Entjie verder loop ’n klompie beeste tussen die gras. Hier en daar is die oorblyfsels van mure sigbaar.

“Hier was die hoërskool.”

Verder, verby nog vervalle huise en geboue, wys pa na ’n plek waar ’n klomp dromme staan. “Hier was die fliekteater. Die Empire.”

Toe ons afklim het pa ’n rukkie stilgestaan en om hom gekyk. Mense het na die trok aangestap gekom en die kratte op die trok afgelaai.

“Ek is bly om te sien die Herbert Baker staan nog. In die ou dae was dit die Standard Bank.”

Pa wys na ’n klipgebou wat op ’n hoek staan. Dit het twee gewels aan elke kant van die gebou. Banke bestaan nie meer nie, want ons gebruik net crypto currency.

Teen die een gewel staan “Farming Co-operative”. Skuins oorkant die klipgebou staan wat ook ’n kerk moes gewees het. Die vier mure staan nog, in geboë gewels. Die dak is af en ek kan sien waar die kerktoring was. Elke gewel het ’n ronde venster in die middel gehad.

“Die dak was van koper,” sê pa. Hy kyk rond. “Die standbeeld van Sarel Cilliers is ook weg. Dit het op daardie kliphopie gestaan.”

Hy wys na die voorblad van een van die boeke. “Dit is hoe dit gelyk het.”

Ek kan die standbeeld nog vaagweg onthou. Die man staan op ’n ou kanon met sy een hand in die lug terwyl hy met die ander hand ’n boek teen sy bors vasdruk.

“Die kerk het ’n Romeinse koepel gehad,” verduidelik pa verder.

Pa was ’n bewonderaar van die Romeine, veral in die Republikeinse tydperk. Hy het nie van konings gehou nie en ook nie van Julius Caesar nie. Eenkeer toe ons Europa toe gereis het, het hy geweier om na die ou kastele te gaan kyk.

“Ek weier om enigsins erkenning te gee aan mense wat sulke vulgariteite bou terwyl hul eie mense vrek van die honger. Dit is gebou op grond van eeue se stelery en knoeiery en julle wil hê ek moet beïndruk wees daardeur? Ek weier.”

Ek en ma het toe maar die kastele sonder hom gaan besoek.

“Ek wil plaas toe gaan,” sê pa.

“Ons sal eers ’n permit moet kry.”

Alle landbougrond behoort aan die staat, want volgens Responsible Citizenship Learning is dit die beste manier om te sorg dat daar genoeg kos vir almal geproduseer word. Groot maatskappye huur grond by die staat, maar hulle mag net die produkte plant wat die staat voorskryf. In die Vrystaat is dit mielies, koring, sonneblom, sorghum en sojabone.

Elke maatskappy het ’n klomp trekkers op elke stuk grond wat deur ’n sentrale stelsel vanuit die stede beheer word. Trekkers ploeg en plant volgens GPS-koördinate. Daar is nie eens meer mense nodig om die voertuie te bestuur nie. Die saad en kunsmis word in silo’s gestoor en die planters word deur die stelsel volgemaak sodra die trekker daaronder stop.

Die plase word goed beskerm en niemand kan sommer net toegang kry nie. Jy het ’n permit nodig.

“Kom ons kry eers ’n voertuig,” sê pa.